GRAAFF-REINET NUUS - Edenhof Dienssentrum, ‘n aftreeoord in Graaff-Reinet, se jaarlikse basaar sal op Saterdag, 3 November gehou word.
Die basaar sal 09:00 die oggend afskop op die tehuis se perseel op die hoek van Somerset- en Cradockstraat.
Volgens Martie Bekker, bestuurder van dié tehuis, sal daar op dié dag heerlike kos te koop wees vir middagete.
“Daar sal verskillende tafels wees met kleinkoekies, groot koeke, roosterkoeke, basaar-poedings, kerrievis, kerrie-en-rys, vars vleis, koffie en tee, en vele meer te koop wees,” sê Bekker.
Alle verkope op dié dag is ten bate van die tehuis.
Almal is welkom om die basaar by te woon en die tehuis te ondersteun.
Vir meer inligting oor die basaar, kontak Martie Bekker by edenhof22@gmail.com of 049 892 3440.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'