GRAAFF-REINET NUUS - Dwelmverwante misdaad, diefstal uit motors en rooftogte is die misdaad wat die meeste in Graaff-Reinet voorkom. Handelsmisdaad toon ook 'n sterk opwaartse kurwe, maar winkeldiefstal is darem af met 50%.
Dié inligting is vroeër op 'n mediakonferensie in Pretoria deur die minister van polisie, Bheki Cele, bekendgemaak as deel van sy kwartaallikse misdaadstatistieke vir die eerste drie maande van die jaar.
Luidens dié statistieke het dwelmverwante misdaad in Graaff-Reinet, wat as gevolg van polisie-optrede opgespoor is, met 'n yslike 87,1% toegeneem van 31 aangemelde sake verlede jaar tot 58 gedurende dieselfde tydperk vanjaar.
Diefstal uit motors is op met 48,6% van 35 in 2020 na 52 vanjaar. En rooftogte het met 'n kommerwekkende 42,9% gestyg met 10 voorvalle wat vanjaar aangeteken is teenoor die sewe van die vorige jaar.
Die totale kontakmisdade in Graaff-Reinet het in die eerste kwartaal van 2021 met 28 aangemelde sake afgeneem. Van Januarie tot Maart 2020 is altesaam 191 sake van misdade soos moord, seksuele misdrywe, aanranding en roof aangemeld, vergeleke met 163 aangemelde sake gedurende dieselfde tydperk vanjaar. Dit is 'n verskil van 14,7%.
Behalwe die moordsyfer in Graaff-Reinet wat met een aangemelde saak toegeneem het, van twee gevalle verlede jaar tot drie hierdie jaar, het die meeste ander kontakmisdade afgeneem.
Seksuele misdrywe het vanjaar met een aangemelde saak gedaal met sewe gevalle in vergelyking met die agt van verlede jaar (12,5%).
Aanranding met die doel om ernstig te beseer het 'n afname van agt aangemelde sake getoon van 71 in 2020 tot 63 vanjaar en algemene aanrandingsake het met 19 aangemelde gevalle (21,1%) gedaal vergeleke met die 90 verlede jaar.
Altesaam vier verkragtingsake is gedurende die eerste kwartaal in Graaff-Reinet aangemeld. Verlede jaar is ses sake aangemeld.
Inbrake by sakepersele het van 45 verlede jaar tot 35 vanjaar gedaal, maar eiendomsverwante misdade het gestyg met sewe gevalle van 66 tussen Januarie en Maart 2020 tot 73 vanjaar.
Die grootste afname in misdaad het voorgekom by poging tot moord wat met 75% gedaal het, roof by sakepersele (75%), winkeldiefstal (50%) en bestuur onder die invloed van alkohol of verdowingsmiddels en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, wat albei 'n afname van 50% getoon het.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'