GRAAFF-REINET NUUS - Te midde van al die negatiewe nuus wat tydens die Covid-19-pandemie die nuustoneel oorheers het, was daar kort-kort ook stories van hoop en voorbeelde van mense met omgeeharte wat 'n verskil probeer maak het.
Een só 'n mooi storie is dié van die Kamdebo-posduifklub wat geld vir die Graaff-Reinet-kankervereniging ingesamel het. Die voorsitter van die posduifklub, Gys van Gent, het in 2020 met die idee begin om geld in te samel.
Met die hulp van die Merino-posduifklub is daar spesiale ringe vir die duiwe vir hul wedvlugte laat maak. Bryan Shell, ’n groot gees in dié sportsoort was tot en met sy afsterwe in 2014 aan kanker, die hoofdryfveer agter die gedagte.
Die wedvlug waarin die duiwe met hul spesiale pienk ringe aan deelgeneem het, is op Touwsrivier losgelaat.
Die wenner van albei die wedvlugte was Garth en Juanita Heunis.
Met dié twee wedvlugte is 'n mooi bedrag van R2 000 vir die kankervereniging ingesamel wat Gys van Gent aan Christa Larson, van Graaff-Reinet-kankervereniging oorhandig het. Larson was verheug om in dié geknelde tyd só 'n mooi verrassing in ontvangs te neem en het al die duiweboere hartlik bedank vir dié mooi gebaar.
Gys sê hulle beoog om dit 'n jaarlikse instelling te maak.
Dié spesiale ringe is deur die Kamdebo-posduifklub vir hul wedvlugduiwe gemaak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'