GRAAFF-REINET NUUS - Graaff-Reinet is omtrent in rep en roer oor die vooruitsig dat die dorp dalk vir 'n tweede keer as Suid-Afika se dorp van die jaar aangewys kan word.
Dis weer tyd vir Kwêla se Dorp van die Jaar-kompetisie en in Graaff-Reinet gons dit onder inwoners oor planne om dié Karoodorp op te kommandeer om sy tweede titel op te raap.
Graaff-Reinet is in 2010 as Suid-Afrika se dorp van die jaar aangewys toe Rapport en Kwêla dit vir die eerste keer saam aangebied het.
Dié kompetisie word vanjaar vir die 12de keer in samewerking met lekkeslaap.co.za en Kia gehou word.
Die twee dryfvere agter die bemarkings-veldtog vir die dorp se deelname aan die kompetisie is Christie Stolz en Hestie van der Mescht. Veral Stolz is soos 'n styfgespande snaar oorgehaal om Graaff-Reinet se inwoners te motiveer om hul deel te doen en die dorp in te stem.
"Daar is beslis iets in die lug en die inwoners is baie opgewonde om weer deel te wees van die veldtog om Graaff-Reinet sy tweede titel te besorg. Daarom het ek en Hestie 'n veldtog van stapel gestuur vir ons gemeenskap om te besef hoe dankbaar ons moet wees oor waar ons woon en werk. Graaff-Reinet staan nie verniet bekend as die Juweel van die Karoo nie," sê Stolz.
Enige dorp in Suid-Afrika of Namibië kan benoem word, mits dit minder as 500 000 inwoners het en ook nie 'n streekwenner in die laaste twee jaar was nie.
In 2020 was Swellendam, Gariepdam, Tzaneen, Heidelberg in Gauteng, Williston,
Kareedouw en Port Edward die streek-wenners en in 2021 was dit Greyton, Upington, Senekal, Koster, Wakkerstroom, St. Lucia, St. Francisbaai, Hoedspruit en Gochas.
Vorige wendorpe mag vir vyf jaar ná hulle as wenner aangewys is, nie weer deelneem nie.
"Dis maklik om deel te neem, sê Stolz." Benoem jou gunsteling dorp uit enige streek deur die dorpsnaam na 33157 te SMS (SMS'e kos R1,50)."
Inskrywings het reeds op Sondag 6 Maart 2022 om 18:00 geopen en sluit op 18 Maart 2022 om 12:00. Deelnemers kan soveel dorpies benoem soveel keer as wat hulle wil (net een dorpsnaam per SMS, en soveel SMS'e as jy wil in hierdie nominasie ronde).
Daar sal uit nege streke gekies word:
Gauteng en Noordwes saam; Noord-Kaap; Oos-Kaap; Wes-Kaap; Vrystaat; Limpopo; Mpumalanga, KwaZulu-Natal en Namibië.
Uit elke streek sal die drie dorpe met die meeste benoemings deurdring na die halfeindrondes op 17 April, 24 April en 1 Mei. Dan kry die publiek vir 'n week lank elke ronde 'n geleentheid om vir hul gunstelingdorp te stem. Dié halfeindronde laat net 30 SMS'e per nommer toe.
Die dorp met die meeste stemme dring deur na die eindronde. Kwêla sal 'n insetsel op elk van die nege dorpies wat die eindronde gehaal het verfilm.
Wanneer al nege dorpe op Kwêla gewys is, sal die publiek van 18:00 op 17 Julie tot 12:00 22 Julie vir die wendorp kan stem. Die wendorp word op 31 Julie 2022 op Kwêla aangekondig.
Die dorp met die meeste stemme word as Kwêla se Dorp van die Jaar aangewys en wen 'n ongelooflike R1 miljoen se bemarkingswaarde van kykNET.
Homebrew Films, die vervaardigers van Kwêla, sal 'n 45 sekonde advertensie oor die dorp maak wat gedurende kykNET se advertensietyd uitgesaai sal word.
Daar sal ook 'n groot KIA Dorp van die Jaar-makietie in die wendorp gehou word met musiek, kos en hope pret vir die inwoners.
Kwêla sal weer daar wees om dit te verfilm en dit sal later die jaar uitgesaai word.
Dis weer tyd vir Kwêla se Dorp van die Jaar-kompetisie en inwoners van Graaff-Reinet word aangemoedig om vir dié Karoodorp te stem. Graaff-Reinet is in 2010 as Suid-Afrika se dorp van die jaar aangewys. Foto's: Hugo Redelinghuys
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'