GRAAFF-REINET NUUS - Die vooruitgang van 'n dorp en die karakter van sy inwoners word telkens in sy koerant weerspieël.
Op Graaff-Reinet het 'n aansienlike aantal koerante gedurende die 19e eeu hul verskyning gemaak.
Die eerste koerant, die Graaff-Reinet Courant wat op 30 Mei 1851 die lig gesien het, was die negende koerant wat in die destydse Kaapkolonie sy verskyning gemaak het.
Op 25 Augustus word die Courant met sterk opposisie gekonfronteer deur die verskyning van die Graaff-Reinet Herald, en, nadat dit baie beledigings en aantygings van die opposisie verduur het, sluit dit op 30 Augustus 1854.
Die Herald se volgende opponent, The Graaff-Reinet Banner onder redakteur George Bremner (skoolhoof), bestaan van 7 Oktober 1857 tot 22 Februarie 1860.
Die Herald was misnoegd, omdat die Banner geneig was om oor alles te kla ('afflicted with a most unhappy disposition to grumble at everybody and everything').
Die drukpers wat deur die Herald gebruik is, is die oorspronklike pers van die here Fairbairn en Pringle, wat lord Charles Somerset in 1824 met ysterkettings laat toesluit het.
Die leuse van die Herald was 'The Press is the Lever that moves the World' ('die pers is die spil wat die wereld laat draai') en bulle poog om 'waarheid, geregtigheid en vooruitgang' voor te hou.
Dit word 'n aanhoudende verkondiger van vooruitgang, veral op onderwys- en handelsgebied; dit verdoem die slegte strate en bepleit 'n verbeterde waterstelsel; dit inspireer die boere, kritiseer die swak koloniale administrasie, maar versoek bowenal die aanlê van 'n spoorverbinding.
Ten spyte van die hoë ideale van die redakteurs (Alfred Essex en William Rabone) en die voortreflike beriggewing, beland dit, om twee groot redes, in onguns: die eentalige beleid van slegs Engels, en die ongenadige kritiek op die konserwatiewe munisipale owerheid.
Die koerant gee vooruitstrewende leiding in die dorp wat basies konserwatief was, tot sy roemryke loopbaan in September 1884 eindig. Hoewel die Herald op 4 April 1860 waarsku dat 'Graaff-Reinet has not a kindly climate for newspaper enterprise' neem John Powell die Banner oor en noem die koerant die Graaff-Reinet Advertiser.
Dié koerant se prospektus was baie eenvoudig: Ons kan slegs plaaslike nuus plaas, met 'n weeklikse weergawe van verbygaande gebeurtenisse. Twee jaar later neem Henry Sandford die koerant oor. Tussen April 1865 en 1886 publiseer hy 'n uitsluitlik Hollandse verkorte weergawe van die Advertiser, wat hy die De Graaff-Reinet Courant noem.
Van toe af word alle openbare en munisipale kennisgewings in Sandford se koerante geplaas. Sy swakheid lê daarin dat hy, waar moontlik, die Hollandse mening verswyg het.
In Julie 1881 verskyn die eerste egte Hollandse koerant, De Graaff-Reinetter, onder die redaksie van James McCusker. Hy is op Graaff-Reinet gebore waar sy Ierse weduwee-moeder spartel om haar gesin groot te maak.
Hy word 'n koerantman met 'n ander roeping as dié van sy tydgenote Cleghorn en Harris - hy veg vir die saak van die 'verdrukte' erfhouers en die pasgestige Afrikaner Bond.
Sy koerant word wyd deur Hollandssprekendes gelees - totdat dit in November 1902 sluit.
Teen 1891 bevredig sy politieke verband die Bond nie meer nie, en Onze Courant word onder redaksie van CHO Marais gestig. Hierdie koerant kan beskou word as die eerste ware politieke koerant in die Middellande.
Nog drie Engelse koerante verskyn 'n kort rukkie: The Graaff-Reinet Penny News in 1884, wat in die loop van die volgende jaar van naam verander en die Graaff-Reinet News heet. Dit word in 1886 gevolg deur die Cape Farmer wat ses maande lank verskyn. In 1900 verskyn die Graaff-Reinet Budget - elf maande lank.
Die pers verander die leefwyse van die inwoners ingrypend.
Dit stimuleer bespreking, en lê die grondslag vir 'n patriotiese gemeenskapsgees in die Karoo.
Oor 'n periode van een-en-'n-halfeeu bly die Graaff-Reinet Advertiser, nou een van die oudste koerante in Suid-Afrika, die dorp se lewende skakel met die verlede.
* n Uittreksel uit 'LANTERN Tydskrif vir Kennis en Kultuur' Julie 1986 Jaargang 35 Nr 2.
Die Graaff-Reinet Advertiser redaktrise, Mariëtte Burger, met 'n afskrif van die voorblad van die eerste uitgawe van die Graaff-Reinet Advertiser, wat op 4 April 1860 die lig gesien het. Oor 'n periode van een-en-'n-halfeeu bly die Graaff-Reinet Advertiser, nou een van die oudste koerante in Suid-Afrika, die dorp se lewende skakel met die verlede.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'