GRAAFF-REINET NUUS - Na Graaff-Reinet Advertiser se berig in Desember verlede jaar oor die inwoners van die informele nedersetting, Riemvasmaak, wat vir die hoeveelste keer moes opvolg by Dr Beyers Naudé-munisipaliteit oor enige vordering om die haglike omstandighede in die woonbuurt te verbeter, het die Advertiser onlangs gaan kyk hoe dit nou in Riemvasmaak gaan.
En dit gaan broekskeur.
Riemvasmakers kom al vir 20 jaar oor die weg met weinig tot geen basiese dienslewering.
In Desember is die inwoners se versoek oudergewoonte weggepraat en verwys na sodanige komitees wat gestig is om hulle sake te behartig. En dit blyk alles was weereens net leë beloftes.
Sias Smith, sameroeper van Action Save Dr Beyers Naude Local Municipality (ASDBNLM), het die Advertiser op 'n staptoer geneem deur die bemorste stegies van Riemvasmaak en uitgewys hoe dit lyk as inwoners se basiese behoeftes op etlike politieke termyne ignoreer word.
Natasha Booysen is as 10-jarige dogtertjie saam met haar ouers en mede-inwoners in 2003 by Riemvasmaak hervestig. Een kragpaal en twee toilette is toe opgerig om die aanvanklike ry van 10 huisies te diens. Sy vertel dat die beloftes van die munisipale bestuur jaar in en jaar uit op niks uitloop. In 20 jaar het die gemeenskap gegroei en kan selfs die groeiende inwonertal nie die bestuur noop om aksie te neem nie.
Twee van die vier toilette wat deur die hele gemeenskap gebruik moet word. Geen deure, oorgroei en onbruikbaar.
Riemvasmaak bestaan nou uit ongeveer 130 huise en staan die enkele kragpaal vandag soos 'n seer-oog-kraaines vanweë onwettige verbindings. Elektriese koorde lê vlak onder die grond wat groot gevaar inhou vir kinders wat rondom dit speel.
Daar is in 20 jaar nog net twee ekstra toilette aangebring en enkele waterpunte, maar dié is vervalle met stukkende krane, oorgroeide bosse en dreine wat oorloop.
Loop jy deur die verspoelde strate en stege van Riemvasmaak, merk mens tog dat talle inwoners moeite doen om hul woonplek, hoe eenvoudig ook al, in te rig met heinings, tuine en afdakke.
"Menswaardigheid is iets waarop elke burger van Suid-Afrika geregtig is en so ook die voorsiening van gesonde water en veilige elektrisiteit. Hoe 'n munisipaliteit dit nie hul mense gun nie, gaan mens se verstand te bowe," sê Smith oor die gemeenskap wat dekades lank met hul hande in die lug staan en smeek.
Een van die enkele waterpunte waar ongeveer 130 huishoudings water moet kry.
Die enkele kragpunt vir ongeveer 130 huishoudings is verstrengel met onwettige konneksies.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'