GRAAFF-REINET NUUS – Plaaslike fietsryliefhebbers, Johann Sparrius en Wayne van Loggerenberg, hoop om weer nuwe lewe in fietsry as ‘n sport in Graaff-Reinet en omgewing te trap.
Sedert die plaaslike fietsryklub etlike jare gelede ontbind het, het die deelname aan dié sport afgeneem, en hoop Sparrius en Van Loggerenberg dat hul daarin kan slaag om dié sport weer te laat herleef.
“Daar is ongeveer 50 sosiale fietsryers waarvan ons bewus is – daar word gehoop dat die fietsers op ‘n gereelde basis bymekaar gebring kan word om die speke te laat sing en dié sport weer op die been te bring,” sê Sparrius.
“Ons wil graag vir die individuele fietsryer die geleentheid gee om deel te wees van ‘n georganiseerde groep waar daar ritte gereël word met roetes wat aan vir alle fiksheidsvlakke, tegniese vermoëns en voorkeure voorsien.”
Om hierdie droom te laat realiseer, het Van Loggerenberg en Sparrius koppe bymekaar gesit, en aan drie opwindende fietsry-geleenthede begin beplan.
Die eerste daarvan – ‘n nagrit - sal dié Vrydag, 10 November, met die volmaan plaasvind. Die roete kronkel deur die Camdeboo Nasionale Park en fietsers kan uitsien na ‘n heerlike gesellige byeenkoms.
Die geleentheid, met ‘n weermag-tema, roep fietsers om vir ‘militêre opleiding’ aan te meld.
Belangstellende fietsers moet dus om 18:00 Vrydagaand hulself by een van die volgende ‘stasies’ aanmeld: die Greenacres-gebou op die hoek van Somerset- en Stockenstroomstraat, die uitkykpunt by die Nqwebadam, die Gideon Scheepers-gedenknaald of by die hoof ingang na die Vallei van Verlatenheid.
Alle ‘lotelinge’ wat hul aanmeld by ‘n stasie moet beskik oor ‘n fiets, koplamp of flits, valhelm en R40 vir ‘n ‘treinkaartjie’. Deelnemers se kleredrag moet ook van so ‘n aard wees dat dit die tema weerspieël.
Gaan wapens, behalwe die tradisionele ‘wapens’ soos ‘n tjop, wors, sosatie en ‘n drankie sal op die ‘trein’ toegelaat word nie - die ‘tradisionele wapens’ is egter ‘n vereiste.
Dit is ‘n feit dat alle ‘lotelinge’ egter nie ewe fiks sal wees nie – die ‘werwingstrein’ sal dus baie stadig tussen ‘stasies’ beweeg om nuwe ‘lotelinge’ op te tel, maar ook om ‘lotelinge’ wat reeds deel is van die ‘trein’, die geleentheid te gee om weer asem te skep.
By die finale bestemming, ‘Die Motorhek Opleidingskollege’, sal die lotelinge deur lede van die ‘militêre- en polisiemag’ ontvang en aan basiese opleiding (opsitte, opdrukke, vlaghysingseremonie en saluut) onderwerp word. By voltooiing van basiese opleiding, sal ‘lotelinge’ kan deel in die inlywingsbraai.
Fietsry-entoesiaste wat graag meer wil weet, kan Johann Sparrius by 082 5744 637 of sparriusj@gmail.com kontak.
* Die inkomste wat deur dié rit gegenereer word, sal aan die ere-veldwagters, verbonde aan die Camdeboo Nasionale park geskenk word.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'