STEYNSBURG NUUS - By Marais Steyn Huis vir Bejaardes in Steynsburg is Dinsdae altyd breidae. 'n Welkome Kersgeskenk het kort voor Kersfees op die voorstoep van die tehuis te lande gekom, wat breidae verewig gaan verander.
'n Groot sak wol is as skenking ontvang en groot opgewondenheid het geheers toe elke breier self kon kies en keur. Tertia Bekker, 'n inwoner van die tehuis, het gereël dat Marie Pienaar verskillende komberspatrone demonstreer.
Martie Bisschoff, 'n 91-jarige inwoner, was so gaaf om met haar gebreide kombersies te wys dat ouderdom geen rede is om lyf weg te steek nie, behalwe as dit agter ’n selfgebreide kombersie is.
Maar so is almal nie breiers nie, sommige is bakkers. Toe daar deur die Kersvakansie probleme met die aflewering van brood ontstaan het, het Karin Kaltenbrünn, bestuurder van Marais Steyn-huis planne beraam en self ingespring om letterlik die brood op die tafel te kry.
Skielik was die tehuis se gange gevul met die reuk van suurdeegbrood wat oral in sonkolletjies gestaan en rys het. Die volgepakte panne en oonde het Marais Steyn-huis na 'n bakkery laat ruik.
"Ons het elke dag heerlike varsgebakte brood bedien waarop 'n klontjie botter kon smelt," vertel Coyla Southey, mediese suster by die tehuis.
Marais Steyn-huis spog ook met 'n boontjietuin. Coreen Steyn, oudfasiliteerder, oudburgemeester van Steynsburg en kranige boervrou, het die jaar besluit om boontjies in haar tuintjie by die tehuis aan te plant.
Sy moes vinnig 'n plan maak om 'n raamwerk waarop die boontjies kon rank aan te bring, want die bone het by Jan-in-die-boontjierank se bone verbygegroei.
"Die bone is oor die feesseisoen geoes, en ons het genoeg boontjies om vir 'n hele rukkie heerlike tuisgekweekte bone te bedien. Daar is ook kerriebone ingelê en mosterd-boneslaai gemaak," vertel Southey.
Avril van den Berg het iemand opgespoor wat sakke vol wol geskenk het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’