GRAAFF-REINET NEWS - Gift of the Givers is die jongste slagoffer van Graaff-Reinet se groeiende misdaadstatistiek. Inbrekers het gisteraand by hul enigste twee trokke, wat oornag by Karoo Taxidermy geparkeer word, ingebreek en onder andere, die batterye gesteel.
Die boosdoeners het ook al die diesel uit die trokke se tenks getap en die spreiligte, wat gebruik word om in die donker noodhulp te verleen, gesteel.
Corene Conradie van Gift of the Givers het aan Graaff-Reinet Advertiser gesê albei trokke is nou gestrand.
"Sonder batterye kan ons geen uitreikaksies doen of noodhulp verleen nie. Die een trok word juis spesifiek aangewend om water na gemeenskappe en diere te vervoer. Nou is ons hande afgekap."
Sy het 'n dringende beroep op inwoners gedoen om hul ore en oë oop te hou vir die gesteelde batterye en spreiligte wat die diewe heel waarskynlik sal wil verkwansel.
(Lees in aanstaande week se Advertiser oor hoe Gift of the Givers ingespring het om water vir diere by die Vallei van Verlatenheid te verskaf).
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'