KAROO NUUS - Vyf mans sit tans agter tralies nadat twee lewende skape in hul motor se kattebak gevind is.
Die Sneeuberg-boerevereniging het Sondag 8 Oktober 'n boodskap op hulle WhatsApp-groep geplaas wat gevra het dat lede op die uitkyk moet wees vir 'n silwer Toyota Corolla wat pas twee skape in hul voertuig se kattebak gelaai het.
Hierdie skape is glo op die plaas Weltevrede aan die voet van Nieu-Bethesda gelaai. Riël Malan, 'n inwoner van Nieu-Bethesda, sê dit blyk dat die insittendes van die voertuig van Graaff-Reinet op pad was na Nieu-Bethesda toe hulle die skape opgelaai het.
Malan en sy skoonseun, Wikus van der Linde, het by die brug, net voor die afdraai Nieu-Bethesda toe, gaan wag om te sien of hulle die voertuig gewaar. Volgens Malan het die voertuig heel rustig aangery gekom en het hulle die voertuig gestop en gevra dat die bestuurder die kattebak moet oopmaak, waar hulle toe die twee skape gevind het.
Bevelvoerder kapt. Francois Oosthuizen van Graaff-Reinet se veediefstal-eenheid sê dat hulle Sondag deur die publiek ingelig oor die voorval. Hy sê dat die vyf insittendes op die toneel gearresteer is en dat hulle dié week in die Graaff-Reinet-landdroshof op aanklag van veediefstal sou verskyn.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’