GRAAFF-REINET NUUS - Die streekhof in Graaff-Reinet het *Innes X meer as 'n dekade gelede op 26 Oktober 2009 onskuldig bevind van seksuele aanranding van sy dogter, toe 17 jaar oud, maar die skade van die vals beskuldiging kan nooit ongedaan gemaak word nie.
Hy onthou daardie dag duidelik: "Ek het geweet ek is onskuldig, maar dit was steeds 'n verligting om 'n hof dit te hoor bevestig. Ek was vol hoop: die jaar lange nagmerrie was verby."
Maar vir Innes het die hofuitspraak nie die nagmerrie beëindig nie; dit was die begin van 'n skandvlek se skaduwee wat hom oral sou agtervolg - vir jare.
"Met die boer uit die Aberdeen-omgewing wat nou teregstaan op 'n soortgelyke aanklag, herleef ek alles weer," sê Innes.
"Ek het alles verloor. In een jaar het ek alles wat ek 'n leeftyd aan gebou het, verloor. My werk, huis, besittings, maar die belangrikste: my gesin en stabiliteit. Ek moes uiteindelik trek. Uit my dorp uit. Met niks. En elders probeer oorbegin. Want ek is die man wat sy dogter molesteer het; ek is die man met die ondenkbare skandvlek."
Innes se nagmerrie het begin op 'n doodgewone werksdag. Hy was op pad na sy een seun se sportwedstryd, toe sy vrou hom telefonies meedeel dat hy eers huis toe moes gaan, want "hier is 'n vrou wat met jou wil praat".
Absurd
Innes sê hy het in ongeloof gelag toe die vrou hom meedeel dat sy 'n maatskaplike werker is en 'n klag van seksuele aanranding - betasting - teen hom ondersoek.
Hy is daarvan beskuldig dat hy sy dogter, toe 16, vir jare lank betas het - vandat sy nege jaar oud was. "Sy was vier jaar oud toe ek en haar ma getroud is en ek haar en my een seun aangeneem het."
Innes se arrestasie op sy verjaarsdag op 24 Oktober 2008 het voortgevloei uit die maatskaplike werker se ondersoekbevinding. Weens die aard van sy werk, is hy nie in aanhoudingselle geplaas nie, maar in huisarres en is hy by sy werk geskors met onmiddellik effek. "Ek was op daardie stadium in lyn vir bevordering. Van op vir bevordering na geskors na degradering na 'n laer pos ... wat 'n loopbaan, wat 'n skande..."
"Omdat ek in hegtenis by die huis moes bly, moes my vrou kies: as sy ook gebly het, moes ons dogter elders in 'n plek van veiligheid bly. Anders moes my vrou trek sodat ons dogter by haar kon wees. So, sy het die kinders gevat en in 'n woonstel gaan bly."
Onskuldig
Teen die tyd dat Innes in die hof onskuldig bevind is, het sy vrou hom reeds gevra vir 'n egskeiding en die seuns het by haar gewoon. "Ek het later uitgevind sy het geruime tyd reeds 'n buite-egtelike verhouding gehad. Sy het my in die huis gelos met net die nodigste: 'n enkelbed, 'n bord, beker, mes en 'n vurk."
Die klaagster in die saak - Innes se dogter - het uiteindelik in die hof getuig dat sy "... nie langer kan jok nie". Innes onthou: "Sy het daar in die hof gestaan en getuig haar ma en die maatskaplike werker het haar voorgesê..."
Ná die hofsaak het Innes se stryd begin om toesig oor sy biologiese seun te verkry. "Dankie tog vir 'n gesinsadvokaat," sug hy. Innes het hegte verhoudings met beide seuns, maar het sedert die hofsaak nog nooit enige kontak met sy dogter gehad nie.
Nog 'n geval
*Job X, nog 'n man van Graaff-Reinet, herroep sy eie, soortgelyke nagmerrie. Ook hy is van seksuele aanranding van sy dogter aangekla en onskuldig bevind. Hy het ook alles verloor - van sy florerende besigheid tot sy woning en gesin.
Ook sy gesin het uitmekaar gespat en hy en sy destydse vrou is ook geskei.
Net soos in Innes se geval, het dieselfde maatskaplike werker ook in Job se geval 'n kernrol gespeel.
Sonder om die besonderhede van sy saak op rekord te bespreek, sê Job: "Die hofuitspraak van onskuldig het nie die skaduwee doodgebrand nie.
"Dis soos om 'n verrottende lyk saam met jou te moet sleep. Die reuk kleef aan jou vas en laat almal om jou wegdeins van jou af."
Innes X draai nie doekies om nie: "Die maatskaplike werker is dieselfde een in beide ons sake. Jy kan maar soek - daar sal nog mans wees wat onder haar deurgeloop het."
Deeglike huiswerk NB
Verskeie spesialiste in die psigologie-veld beklemtoon dat ondersoekers van seksuele aanrandingklagtes 'n geweldige groot verantwoordelikheid dra. Darrel W Richardson verwys na spesialiste soos AH Green, LG Schultz, LD Spiegel en DC Schuman in sy artikel, The effect of a false allegation of child sexual abuse on an intact middle class family, gepubliseer in die IPT-Journal, Vol 2, Nr 4, Herfs 1990-uitgawe met as oorwoë slotsom dat die moderne samelewing 'n klag van seksuele aanranding van 'n kind enige tyd net so ernstig afkeurend bejeën as die skuldigbevinding aan sodanige klag.
Daarom, bevind Richardson, moet ondersoekers en evalueerders elke sodanige klag uiters versigtig benader en soveel inligting moontlik bekom.
Hy wys ook uit dat ondersoekers van kinderaanrandingklagtes hulleself in uitsonderlike sterk magsposisies bevind.
Presies net soos 'n kind wat werklik onderwerp is aan seksuele aanranding ten alle koste beskerm moet word, behoort elke ouer beskerm te word teen die ondraaglike stigma in geval van vals bewerings.
Die donker, lang skaduwee van so 'n skandvlek agtervolg 'n ouer vir ewig.
Die Aberdeen-aangeklaagde verskyn weer hierdie Vrydag 14 April in die hof.
* Skuilname is gebruik om al die rolspelers te beskerm.
'n Man wat valslik van kindermolestering beskuldig word, leef vir ewig met die skandvlek al word hy in die hof onskuldig bevind. Foto ter illustrasie: Nik Shuliahin, unsplash.com
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’