REDAKTEURSKOLOM - Die jaar snel vinnig tot 'n einde en oral is mense besig om kamp toerusting, speelgoed en fietse in te pak vir die Kersvakansie.
Baie van ons sien daarna uit om sommer net saans om die kampvuur te sit met 'n lantern sodat ons nie van Eskom afhanklik is nie!
Met hierdie laaste uitgawe vir 2018 is dit 'n goeie tyd om ons lesers en adverteerders te bedank vir die jaar se ondersteuning.
Dankie aan almal wat deur die jaar vir ons inligting deurgegee het en ons bygestaan het om beriggewing so feitelik as moontlik te doen.
Dankie dan ook aan al die inwoners dat julle bygedra het om hierdie jaar alles behalwe vervelig te maak.
Aan al ons getroue lesers, diegene wat ons dalk nie so gereeld lees nie, vakansiegangers en besoekers wil ek namens myself en die personeel van die Graaff-Reinet Advertiser 'n baie geseënde feestyd en Kersfees toewens, maar ook 'n voorspoedige en gelukkige nuwe jaar. Indien u weggaan vir die vakansie, reis veilig en moenie kanse waag op die paaie nie.
Mag die Kersgety vir almal vreugde en nuwe hoop bring en mag ons almal 2019 met oop harte, 'n oop gemoed en oop koppe ingaan.
Die eerste 2019 uitgawe van die Graaff-Reinet Advertiser is op 10 Januarie op die rakke.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'