Update
CRADOCK NUUS - Drie verdagtes in die vermoedelik bendeverwante-moord op twee inwoners van Cradock, se lot is nou in die hande van die Departement Openbare Vervolging (DOV).
Inwoners van Pukwanestraat en omgewing is verlede jaar op 21 Julie in rou en skok gedompel, toe Siseko Tpakela (32) en Athenkosi Bomvana (31) omstreeks 4vm binne in hul huis met petrolbomme bestook is.
Hulle het van die vlamme probeer vlug, maar is buite die huis met klippe aangeval en met messe gesteek. Beide is op die toneel dood.
Die DOV moet nou besluit of die verdagtes, vermeende bendelede Clifford Bishop (38), Meebisi Ndlebende (44) en Luthandi Dweba (29), in 'n hoër hof as die landdroshof moet teregstaan.
Bishop, Ndlebende en Dweba is dieselfde dag saam met Njabulo Cita (20) in hegtenis geneem, maar volgens polisiewoordvoerder, Kapt Lariane Jonker, het Cita toe staatsgetuie geword teen die ander beskuldigdes.
Cita is vrygelaat, met die ander drie wat in aanhouding bly. Hul borgaansoek op 13 September is van die hand gewys en hulle het op 11 en 25 Oktober weer vlugtig in die Cradock-landdroshof verskyn.
Jonker sê die DOV sal nou 'n hofdatum bepaal. Die moontlikheid is nie uitgesluit dat die saak voor 'n regter in die Rondgaande Hooggeregshof sal voorkom nie.
Die Advertiser het die moordtoneel en die oorledenes se moeders, Esther Tpakela en Mandlakazi Grimmis op die dag van die moord besoek. Hulle was emosioneel verpletter.
Deur haar trane het Grimmis vertel van die vlammehel en die mesaanvalle op die vlugtende slagoffers.
Grimmis het die twee oorledenes as wetsgehoorsame jong mans beskryf. Sy het ten sterkste ontken dat hulle by bendebedrywighede betrokke was, maar die verdagtes as bendelede bestempel.
Vorige artikel: Petrolbom-moordverdagtes in aanhouding
'Ons bring jou die nuutste Cradock, Karoo nuus'