CRADOCK NUUS - Charles Garth, oudleerder en administrateur van Hoërskool Cradock se sosiale media platforms sê dat hy verheug is om die nuwe skoolhoof, Anthony Kitching, aan die gemeenskap bekend te stel.
"Kitching bring 'n magdom ervaring en entoesiasme na Hoërskool Cradock. Hy het hom die afgelope 15 jaar as geografie-onderwyser aan die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch toegewy. Ons sien daarna uit om onder sy leierskap ‘n nuwe era van groei, inspirasie en bemagtiging te ervaar.
"Ons glo dat sy insig, perspektief en vars idees instrumenteel sal wees in die vorming van ons leerders om hul voor te berei vir die geleenthede in die wêreld daar buite. Die Advertiser het ook besoek by Kitching gaan aflê om hom te verwelkom. Hy sê dat hy bevoorreg voel en daarna uitsien om by die bekwame span aan te sluit."
“Die historiese geboue van hierdie skool met sy ryk geskiedenis, is gevul met gelukkige personeel en gelukkige leerders, en daarop wil ek voortbou. Alles is netjies, goed versorg en die tuine is in volle blom, en ek vind dieselfde binne die skoolgebou. Personeel en leerders is netjies, vriendelik en positief. Ek sien ook daarna uit om steeds klas te gee in geografie - die mikpunt wat ek vir myself stel is om weer ‘n 100% matriekslaagsyfer te behaal.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’