RUBRIEK: Verlede keer het ek geskryf oor vals nuus (fake news) wat so geredelik versprei word deur sosiale media en hoe onverantwoordelik dit is om doodeenvouding enige berig of inligting te versprei of aan te stuur sonder om die oorsprong of die egtheid daarvan te bepaal.
Hierdie keer wil ek skryf oor hoe mens tegnologie op ‘n positiewe wyse kan gebruik om die alleenheid so bietjie te verdryf.
Hierdie tyd van afsondering gaan vir baie mense baie swaar wees, maar gelukkig maak tegnologie dit deesdae so maklik vir mense om virtueel te vergader en te kuier. Deur forums soos Facebook en WhatsApp kan individue, of selfs families heerlik saamkuier, ‘n drankie of ete saam te geniet, selfs speletjies speel wat die alleenheid baie kan verlig.
Gebruik beslis hierdie tegnologie om ‘nader’ aan jou geliefdes te wees in hierdie tyde van afsondering. Jy moet natuurlik genoegsame data hê, maar beslis gaan jy baie minder brandstof gebruik in hierdie tye.
Ek en my familie ‘kuier’ gereeld vir lang tye op FaceTime, alhoewel ons regoor Suid Afrika versprei is. Almal kan almal sien en saam gesels. Ook drink ons ‘n drankie en eet lekker saam. ‘n Ander baie gewilde platform wat deesdae wyd gebruik word is Zoom.
Tans gebruik ons dit by die Universiteit om klas te gee terwyl die studente nie op kampus is nie. Die studente kan inskakel en deelneem asof hulle in ‘n lesing lokaal is. Hulle kan ook vrae vra, kommentare deurstuur, ens.
Die hele sessie kan ook opgeneem word en iewers gestoor word vir latere gebruik. Zoom is werklik maklik om te gebruik en is verniet, indien jy minder as 40 minute gesels. Maar, een 40 minute kuier-sessie kan maklik met ‘n tweede of derde opgevolg word.
Zoom kan ook op jou rekenaar, selfoon of tablet gebruik word. Dus, probeer gerus om ‘n Zoom ‘kuiertjie’ met jou familie te reël, dit maak die wêreld werklik baie kleiner.
Ten slotte, maak beslis gebruik van die tegnologie om gereeld en vir lang tye aanlyn saam met geliefdes te ‘kuier’. Dit mag beslis die alleenheid makliker maak en miskien mag die gebruik dalk aangaan lank nadat Covid-19 iets van die verlede is.
Prof Rossouw von Solms is ‘n emeritus professor en lid van die Sentrum vir Navorsing in Inligting en Kubersekerheid aan die Nelson Mandela Universiteit.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'