HOFMEYR NUUS - Hofmeyr-landbou-vereniging, in samewerking met die Oos-Vrystaat Koöperasie (OVK) en hul verskaffers, het die afgelope week 'n uitdagende boeretydren aangebied.
"Altesaam 29 spanne, wat uit 'n bestuurder en 'n navigator bestaan het, het deelgeneem.
Spoed speel geen rol in die wedren nie, maar kennis wel," deel Johan Vermaak, voorsitter van die landbouvereniging mee.
Hy vertel dat 'n komitee vanuit die vereniging 'n roete oor 160 km met
13 stoppunte beplan het. By elke stoppunt het 'n firma 'n stalletjie opgestel, en ook 'n vraestel voorsien.
"Deelnemers het vanaf 09:00 die sportklub betrek, en sommige voertuie was goed gelaai met proviand vir die lang pad. Stalletjiehouers was hoofsaaklik verteenwoordigend van firmas wat produkte aan die landboubedryf voorsien. Voertuie is genommer, en dié sirkelroete kon kloksgewys of anti-kloksgewys voltooi word. Dit was hoofsaaklik om opeenhoping te voorkom. Loerien Jordaan, plaaslike OVK bestuurder, het op 'n gereelde basis foto's van die stalletjiehouers ontvang en kon sy van haar kantoor af, die wedren volg."
Joppie en Roelf Opperman, van span 10 was eerste terug by die eindpunt en die res van die deelnemers was kort op hul hakke.
Nadat alle voertuie die wedren voltooi het en die borge en stalletjiehouers ook terug was by die sportklub, het die prysuitdeling plaasgevind en elke borg die wenner by sy stalletjie aangekondig.
Om die dag af te sluit het Oosten Steenkamp die vure aangesteek en deelnemers kon 'n vleisie oor die kole gooi. Sake is effe bemoeilik deur 'n kragonderbreking wat 23 ure geduur het, maar niemand het daaroor gekla nie.
Deelnemers se skietvernuf en vaardigheid met vuurwapens is ook ten toon gestel.
By elke stalletjie moes deelnemers 'n vraestel voltooi. Stalletjiehouers het soms maar gesukkel om die gekrabbel te lees.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'