ABERDEEN NUUS - Aberdeen se bekende stofstrate verander hierdie reënseisoen gereeld in klein rivierstrome.
Sondag 5 Februarie se kort, kragtige donderstorm van net voor 15:00 tot net ná 15:30 het 20mm reën laat val, gepaardgaande met sterk wind.
In hierdie een reënbui het meer reën geval as die 15mm vir die hele Februarie 2022. Die sterk wind en reën het in Darlingstraat groot takke van ‘n reuseboom afgeskeur.
Vele strate was vir ‘n wyle onder water. Groot dele van Aberdeen is nie uitgelê met ‘n aparte stormwater-afvoerstelsel nie; die leivore dien ook as stormwatergeleiers.
Die leivore vorm ‘n hele netwerk wat by kruisstrate vlak onder die grond loop met basies net sementblokbedekking oor die vore waar strate kruis. Die kombinasie van swaarvoertuigverkeer wat die sementblokke breek, gebrek aan voldoende onderhoud en onbeheerde rommelstrooi en vullisstorting veroorsaak blokkasies in die leivore, veral waar dit bedek is by straatkruisings.
Lyn Dugmore van die ikoniese Pagel House in Stockenstroomstraat het gesê die water het by haar erf ingestroom as gevolg van verstopte leivore.
Ook in Cathcartstraat oorkant Pagel House het die water behoorlik opgedam. André Marais van De Denne in Darling- en Brandstrate se parkeerarea het ook deurgeloop met water wat opdam.
Ná die blitsige donderstorm is kragonderbrekings uit verskeie dele van die dorp aangemeld. Raadslid Adriaan van Heerden het onmiddellik met die nodige munisipale owerheidsbeamptes geskakel en in minder as ‘n uur was ‘n span uit Graaff-Reinet reeds aan die werk in Aberdeen. Toevoer na van die huishoudings is gou herstel. Van die huishoudings moes egter vir ‘n paar ure geduldig wees weens die omvang van die skade. Raadslid van Heerden het deurentyd inwoners op hoogte gehou oor vordering met die herstelwerk.
Die oorstroomde Cathcartstraat aan die sykant van Pagel House. Foto: Lyn Dugmore.
De Denne se tydelike swembad. Foto: André Marais
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'