GRAAFF-REINET NUUS - Op Woensdag 15 Februarie is 'n nasionale Dohne merino-veiling, wat gebeeldsend is, deur BKB by die Botaniese-gronde aangebied.
Die veiling was 'n eerste vir Graaff-Reinet, omdat dit gewoonlik in Bloemfontein plaasvind.
Oorspronklik sou 34 ramme onder die hammer beland, maar daar was ses onttrekkings.
Van die oorblywende 28 ramme waarop gebie kon word, is 25 verkoop vir 'n gemiddelde prys van R29 480.
Tien telers het met hul spogvee van dorpe soos Molteno, Bredasdorp, Cradock, Wepener, Elsenburg en ander na Graaff-Reinet gereis.
Afslaer Gert Jordaan van BKB en sy spotters het hulle puik van hulle taak gekwyt en die hoogste bod vir die dag - R115 000 - is op 'n ram van JH du Plessis van Kareedouw toegeslaan.
Vir ons lesers se onthalwe, Dohne word uitgespreek soos in Engels, Do knee. Ons sou gedink het jy spreek dit uit soos in Afrikaans: “Dohne, maar dis ‘n duur ram!” Toe nie, dis Do knee!
Dié spog merinoram het die hoogste prys, R115 000, op die veiling gehaal. Van links is die verkopers Henry, Mari-Lena en Stephan du Plessis van Kouga Dohnes saam met Gert Jordaan, BKB afslaer en die kopers, Wynand du Toit (Suidplaas Dohnes), John Morris (Terra Vino Dohnes) en Jurie & Boeta Wessels (Weska Dohnes). Foto: Caren Venter, Veeplaas Media
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'