KAROO NUUS - Aberdeen - 6mm welkome reën het Woensdagaand, 30 November die totale reënval vir die maand op 95mm gebring.
André Marais, eienaar van De Denne, wys daarop dat dit meer as dubbel die reënval is wat hy gemeet het in November 2021 (42.5mm).
Geoordeel aan die gewilligheid waarmee die reën uitsak - ook vanmiddag 1 Desember - gaan hierdie Desember se reënmeter waarskynlik ook verlede Desember se uiters welkome 135mm oorskry.
Ervare natuurliefhebbers in die dorp wys die reënblomme uit; gesels kopknikkend oor die drukkende hitte; en wys heel biblies na die miere se aktiwiteite: "Ons gaan 'n nat reënseisoen in; die miere is bésig!" 'n Verbyganger, haastig om voor die reën by die huis te kom, merk op: "Maak die geute skoon en lap maar die dakke: hierdie somer gaan die water nat wees!"
Donderweer en blitse in die hemelruim. Foto: André Marais
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'