KAROO NUUS - BG Badenhorst, oud-leerder van Hoër Landbouskool Marlow, het onlangs 22 veewagters op die plaas Klipplaatsdrift van Shaun Vermaak in die Hofmeyr-distrik, opgelei.
Hy het die afgelope vyf jaar nou saam met sy oom, Jacques van Zyl, gewerk en waardevolle kennis opgedoen oor die basiese versorging van skape.
"Ek het sedert einde 2020 begin om veewagters op te lei en al 10 distrikte besoek," sê Badenhorst en voeg by dat hy al sowat 800 sertifikate aan kursusgangers oorhandig het.
"Dis dikwels die heel eerste opleiding wat veewagters ontvang - dit bemagtig hulle om probleme vroegtydig op te los."
"Dikwels ontvang ek oproepe met 'n klagte, "my skaap is siek", maar as ek vrae vra oor die kliniese tekens, is die antwoorde maar vaag. Ek het toe die geleentheid gesien om die wagters iets te leer.
Veeboere baat dubbeld daarby want hulle arbeiders kry opleiding oor die fisiese diere en die sertifikate word goedgekeur deur Responsible Wool Standard. Alle opleiding is gratis," vertel Badenhorst.
Opleiding is in groot gedeeltes van die Noord-Kaap, Oos-Kaap en Vrystaat, beskikbaar.
Hy vertel dat sy passie nog altyd in landbou gelê het, en dat sy groot liefde vir vee begin het toe hy op 'n daaglikse basis met hulle begin werk het.
Opleiding behels 'n basiese kliniese ondersoekkursus deur middel van die vyfpuntstelsel, "Ek en jy kan dokter toe en sê wat is fout, maar 'n skaap kan nie praat nie so ons moet ons sintuie gebruik, kyk, voel, ruik en proe as dit moet," verduidelik hy.
"Ek lewe my passie elke dag uit.
Dit is hier waar ek gaan aftree, gelukkig eers in 2055," sluit hy af.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’