GRAAFF-REINET NUUS - Die ATKV-tak Spandaukop het verlede Saterdagaand hul Afrikoon-toekenningsgeleentheid by Profcon Resort te Somersetstraat in Graaff-Reinet aangebied. Theo Dörfling, skoolhoof van Hoër Volkskool in Graaff-Reinet, het hierdie glansgeleentheid geopen.
Tydens die geleentheid het Carol-Ann van Jaarsveld die Afrikoon-toekenning ontvang vir haar Pienk Bome vir Pauline-projek, terwyl beide Paul van den Berg en Henry Thomson die Klop-op-die-skouer-toekennings ontvang het.
Gertjan Holtzhauzen het tydens sy spreekbeurt beklemtoon dat die ATKV soveel meer is as net die nege oorde waarvoor dit bekend is.
"Die hart van die ATKV is die meer as 300 landswye takke met mense wat 'n verskil wíl maak in hul gemeenskap." Hy haal die volgende uit die Peace Pilgrim aan: "Een klein persoon wat al hul tyd aan vrede gee, maak nuus. Baie mense wat net 'n klein bietjie van hul tyd gee kan geskiedenis maak."
Die Afrikoon-toekenning is die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) se hoogste plaaslike toekenning wat aan 'n inwoner van die plaaslike gemeenskap toegeken word vir die volhoubare bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur, en die positiewe bydrae tot 'n suksesvolle Suid-Afrika. Hierdie persoon is by uitstek 'n brugbouer en iemand wat 'Trots Suid-Afrikaans in Afrikaans', in woord en daad uitleef.
Met die Afrikoon-toekenning is Van Jaarsveld vereer vir die hoop wat Pienk Bome vir Pauline aan kankerpasiënte bied, die geld wat ingesamel word om hulle te ondersteun en ook vir die bewusmaking van kanker in die Graaff-Reinet-gemeenskap en elke ander gemeenskap wat aan die projek deelneem.
Die Pienk Bome vir Pauline-projek vier hierdie jaar hul 10de bestaansjaar en hul doelwit is om die bedrag wat hulle in die heel eerste jaar ingesamel het, te oorskry.
Van Jaarsveld dra die toekenning aan die Kankervereniging op en bedank hulle vir hul onbaatsugtige werk. Sy het André van Rensburg en Karlien van Jaarsveld vir hul harde werk bedank sowel as haar kinders en man, Hannes van Jaarsveld.
Sy het ook dank betuig vir Adri Jansen van Nieuwenhuizen se toewyding. Adri is die besturende direkteur van Pienk Bome vir Pauline-projek en sy het volgens Van Jaarsveld die projek so uitgerol oor die jare dat daar vandag 144 dorpe landswyd betrokke is.
Paul van den Berg se Klop-op-die-skouer-toekenning was vir sy 'bydrae tot die behoud van Graaff-Reinet se waardevolle kultuurerfenis' en hy is spesiaal bedank omdat hy die dorp se monumente so mooi versorg en sodoende bewaar vir die nageslag.
Henry Thomson het die Klop-op-die-skouer-toekenning ontvang vir sy 'jare lange merkwaardige bydrae tot die ATKV-tak Spandaukop se aktiwiteite en projekte' en veral vir sy visie om 'n suksesvolle beroepsaand te begin. Hy is bedank vir sy passie en harde werk as onderwyser in Graaff-Reinet en in die groter Oos-Kaap.
Aan goeie musiekvermaak was daar natuurlik geen gebrek nie. Arno Nell het 'n lieflike sangitem gelewer en gaskunstenaars Jannie du Toit en Annelie du Plessis-Hoberg het die mooiste musiek gemaak. Jannie met sy unieke sin vir humor het die eregaste ook telkemale laat skaterlag.
Die geleentheid is afgesluit met die boodskap: "Belê in jouself, Belê in jou toekoms." #weesdieverskil.
Vorige artikel: ATKV oorhandig toekennings
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'