STEYTLERVILLE NUUS - Geodrey Arries, gebore en getoë op die dorp, het onlangs toiletware aan Hoërskool Carel du Toit geskenk en sodoende 'n breë glimlag op leerders se gesigte gesit - sy eerste liefdadigheidspoging op sy tuisdorp.
Arries woon en werk deesdae in Gqeberha en vertel dat hy en sy kollegas aanvanklik dáár begin het om toiletware by skole uit te deel.
Nadat dit doodgeloop het, het hy besluit om sy werk in Steytlerville voort te sit - hiér waar hy self vanaf kleuterskool tot in matriek op skool was.
Arries sê die land se verswakte ekonomiese toestand het ook 'n negatiewe impak op leerders.
"Daar is 'n aansienlike toename in behoeftige leerders. Ek het die eerste stap geneem omdat ek weet watter positiewe impak 'n helpende hand kan hê. Een klein liefdadigheidsdaad kan ‘n behoeftige leerder se lewe verander.”
Arries moedig mense aan om donasies te maak, al is dit hoe gering. "'n Donasie is nie noodwendig 'n peperduur produk nie. Bekostigbare produkte soos sanitêre doekies en seep kan ook 'n groot verskil maak,” sê hy.
Die grondslag vir barmhartigheid is in sy ouerhuis vasgelê - iets waarvoor hy sy ouers ewig dankbaar is.
Ethan Vermaak, komiteelid van welsynsake by Hoërskool Carel du Toit saam met van die leerders.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’