KAROO NUUS - Archie Cronjé het op 17 November 'n 'klop op die skouer' van die ATKV ontvang vir die werk wat hy oor die jare as voorsitter van die ATKV Spandaukop-tak gedoen het.
Hy het in 2006 by die ATKV aangesluit en is 'n ware aktivis vir die organisasie. Hy is sedert 2018 voorsitter van die Spandaukop-tak.
Cronjé se motief is die feit dat die ATKV 'n organisasie is waar jy jouself kan uitleef in Afrikaans en in jou kultuur - maak nie saak wie of wat jy is nie. Hy wil die positiewe verskil in ander se lewens te wees.
Jaco Spies, ATKV-streekbestuur Oos-Kaap sê dat die besluit om 'n "klop op die skouer"-toekenning aan Cronjé te gee deur die ATKV-streekbestuur asook die kommunikasiehoof, Mercia Eksteen, voorgestel is omdat hy konsekwent die visie en missie van die ATKV uitleef en ander bewus maak van die goeie werk wat die organisasie doen.
Die ATKV Spandaukop-tak het hierdie jaar 12 uitstekende, herhaalbare projekte van stapel gestuur wat bygedra het dat meer as R70 000 ten bate van Huis van de Graaff ingesamel is.
Cronjé vertel dat hy glad nie die toekenning verwag het nie en dat hy trots en dankbaar is om deel van die suksesstorie te wees.
Ontstaan van Spandaukop-tak:
Die Spandaukop-tak is op 1 September 2002 deur Lieben en Martie Bekker, tesame met 'n paar vriende van Graaff-Reinet, wat almal destyds ATKV-lede was, gestig.
"Dit is ook dan van pas dat Cronjé tydens die tak se 21ste bestaansjaar die toekenning ontvang, sê Spies. Oor die mondigwording van die tak sê Cronjé dat hy trots is om deel te wees van die tak en sy lede, "Ons het net aangehou met dit wat ons in geglo het."
Die tak ondersteun ook deurlopend Huis van de Graaff, deur fondsinsamelings te hou.
Van die meer onlangse projekte sluit in 'n ontbyt saam met Manie Botha van Braintribe, asook 'n damesoggend by Coldstream saam met Reinette Herbst, bekende motiveringspreker, afrondings-konsultant en stigter van Hartsmeisie.
Projekte wat oor die jare uitgestaan het:
- 'n Remediërende-leesprojek by die Laer Volkskool.
- Beroepsaande by die hoërskole in die omgewing waardeur bewusmaking van verskeie beroepe geskep is
- 'n Anti-boelie-inisiatief tesame met die Gladiators
- 'n Boekeprojek saam met Freek Robinson
Vir volgende jaar beplan Cronjé om ook na die buurdorpe - Aberdeen en Murraysburg - uit te reik.
Hy is baie entoesiasties om dalk weer die ou gewilde ATKV-beroepsaande aan te bied en na verskeie liefdadigheidsorganisasies soos Hospice uit te reik. Hy vertel dat die ATKV beplan om ook verskeie toneelstukke hier in Graaff-Reinet aan te bied.
Cronjé tree glo binne die volgende paar jaar af en sy hartsbegeerte is dat sy opvolgers bewus is van wat die ATKV se doelwitte is.
"Ek sal graag wil sien dat die tak ver in die toekoms steeds sal funksioneer en groei."
Hy nooi elkeen wat graag by die ATKV wil aansluit uit om hom by 072 700 9490 te skakel of die webwerf by atkv.org.za te besoek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’