Update
GRAAFF-REINET NUUS - Dr. Beyers Naude-munisipaliteit se antwoorde oor die gebruik van Maggie se put om watertekorte in Graaff-Reinet te verlig, word deur die Camdeboo Development Forum bevraagteken.
Beurtkrag beïnvloed reservoirvlakke en veral hoogliggende gebiede word geraak. Die munisipaliteit ry water na geaffekteerde areas, maar vragmotors neem wel langer om vol te maak.
Die forum hou vol dat Maggie se put 'n oplossing vir die huidige waterprobleme bied en kan nie verstaan dat die fontein nie benut word nie.
Burgemeester Willem Safers en die direkteur van infrastruktuurdienste, Bennie Arends, sê alle water word gereeld getoets en dat Maggie se put nie meer geskik is vir menslike gebruik nie.
Die munisipaliteit het onderneem om dié toetsuitslae beskikbaar te stel, maar die forum het besluit om self die water te laat toets. Toetsmonsters van beide Maggie se put en die water wat tans aan Kroonvale voorsien word is weggestuur.
Dié toetsuitslae bewys dat die kwaliteit van die water uit Maggie se put, veral die totale plaattelling, baie beter is as die kwaliteit van Kroonvale se water.
Johnny Swartz, voorsitter van die Camdeboo Development Forum sê die plaattellings van beide toetsmonsters was buite die spesifikasie vir menslike gebruik.
"Dit moet volgens SABS standaarde minder as 50 wees. Die totale plaattelling van die water uit Maggie se put is 103 terwyl die water wat tans aan Kroonvale verskaf word op 7 200 staan. Volgens SABS standaarde moet die telling vir E. Coli minder as 20 wees. Die telling van Maggie se put is binne spesifikasie (20), maar nie Kroonvale se water (36) nie."
Tot op hede het die munisipaliteit nog nie hul eie toetsuitslae beskikbaar gemaak nie.
"Ons het al vele versoeke aan die munisipaliteit gerig, skriftelik en in persoon, maar die toetsuitslae kan net nie na vore kom nie," sê Swartz.
'n Bron het die forum intussen meegedeel dat Maggie se put nie gebruik word nie omdat die munisipaliteit se trokke glo gereeld daar vasgesit het.
Die forum eis antwoorde en sal nie die saak daar laat nie. Die gemeenskap se waterfrustrasies duur voort omdat trokke nie kan voorbly met water-voorsiening nie. Tydens die People for Basic Rights (P4BR) optog verlede week, het Anneke Venter, sekretaresse van die forum, 'n beroep op die munisipaliteit gedoen om op te hou om inwoners te bedrieg.
"Graaff-Reinet het nie 'n waterprobleem nie. Ek het met my eie oë gesien dat daar oorgenoeg water by Maggie se put is. Hoekom kan die munisipaliteit nie net oop kaarte met ons speel nie?"
Inwoners kla ook steeds oor buitensporige waterrekeninge en watermeters wat loop ten spyte van die feit dat hulle amper nooit water het nie.
- Tydens verlede week se People for Basic Rights (P4BR) optog het Willowmore-verteenwoordiger, Zola Menze, die munispaliteit blameer vir Willowmore se watertoevoerkrisis.
Menze is van mening dat Willowmore oorgenoeg water het maar dat die munisipaliteit se onkunde om die water effektief te bestuur die oorsaak van die huidige tekorte is. Dit wil egter voorkom asof die skuld vir Willowmore se watervoorsieningskrisis nie heeltemal voor die munisipaliteit se deur gelê kan word nie.
Na bewering dra 'n privaat grondeienaar wat op 'n ongemagtide wyse aan haarself waterregte toegeken het, grootliks by tot Willowmore se water ellende. Graaff-Reinet Advertiser werk aan die berig en sal die inligting publiseer sodra kommentaar en insette van alle partye ontvang word.
Vorige artikel: Net 7 uit 365 dae water uit die huis se kraan
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'