GRAAFF-REINET NUUS - Vir talle woonbuurte in Graaff-Reinet is daar is steeds geen einde aan die ellende wat deur die aanhoudende wateronderbrekings veroorsaak word nie.
Kroonvale en Selfbou is twee van die areas wat veral swaar geraak word. "Verlede jaar het ek letterlik vir presies sewe dae lank water gehad," sê 'n moedelose inwoner.
"Oujaarsdag het hulle vier ekstra kleppe aangesit en daarna het ek water gehad tot en met 4 Januarie hierdie jaar. Januarie het gekom en gegaan maar ek het steeds geen water nie."
'n Ander inwoner kla dat haar huis se krane vier maande laas water gehad het.
"Daar het die een week vir drie dae lank water deurgekom. Daarna weer niks. Dit is nou al amper middel-Februarie en ons huis se krane is steeds kurkdroog," sê sy moedeloos.
"Ons kan nie voorbly met die water afgooiery in die toilette nie. Dit raak nou al so 'n groot verleentheid dat ons maar vir ons vriende vra om nie meer te kom kuier nie."
Die watertekort sleep voort ten spyte daarvan dat die onderste sluisklep van die Nqwebadam verlede jaar vervang is en Graaff-Reinet die afgelope tyd mildelik reën ontvang het.
Met die voltooiing van hierdie projek het die projekbestuurder van MISA (Municipal Infrastructure Support Agency), Sandra Matungadura, die gemeenskap verseker dat die nuwe sluisklep optimale funksionering van die waterpompe moontlik sal maak en dat daar volhoubare watervoorsiening sal wees sodra Graaff-Reinet genoeg reën kry.
Tenks lukraak volgemaak
Op hierdie stadium word water egter steeds na geaffekteerde areas aangery en die lukrake wyse waarop dit gedoen word veroorsaak konflik.
Sommige tenke word volgemaak terwyl ander net so gelos word.
"Is dit nou reg wat die trokdrywers doen! Hulle kom maak nie ons tenk vol nie en ook nie ons emmers nie. Ons is nou al vir vyf dae lank sonder water, maar die trokdrywer besluit sommer hy gaan nie af in Hibuscusstraat kom nie, hy gaan net daar draai en ons nog skel ook toe ons vra hoe ons water gaan kry en of hy ten minste die tenk kan kom volmaak. Dan is die agterryers nog onbeskof ook..."
'n Goed ingeligte inwoner is van mening dat daar absoluut geen rede is hoekom daar enigsins watertekorte in Kroonvale, Selfbou, of enige ander woonbuurt hoef te wees nie.
"Daar is oorgenoeg water in die dam en die pompe werk perfek. Daar is ook 'n aantal boorgate waaruit water na die reservoir wat hierdie woonbuurte voorsien gepomp word. Indien daar steeds wateronderbrekings is moet daar erens 'n fout met die infrastruktuur wees."
Reservoir kry (weer) 'n dak
Hy spreek ook sy kommer uit oor die R4 miljoen tender wat onlangs deur die raad toegeken is om die reservoir op Panorama-bult se dak te op te sit.
'n Tender hiervoor is voorheen aan 'n ander maatskappy toegeken maar hierdie maatskappy het misluk en toe verdwyn.
"Konstruksie het op Maandag 21 Desember 2020 begin en die balke is opgesit maar sewe daarvan het dieselfde aand ineengestort. Dit is die Dinsdag uit die water gehaal en die bouwerk het voortgegaan maar die Donderdagaand het die nuwe struktuur weer ineengestort. Die balke is toe vroeg in Januarie 2021 uit die water gehaal en langs die reservoir gestapel. Die geraamde waarde van hierdie balke is R250 000."
Hy sê die feit dat daar nou wéér betaal moet word om die reservoir se dak op te sit is belaglik.
"Dit is geld wat aangewend kon word om die uitdagings van woongebiede wat steeds wateronderbrekings ondervind die hoof te bied. Hoe dit ook al sy, die einde van Graaff-Reinet se waterprobleme is duidelik nog glad nie in sig nie."
Die nuwe tender vir die reservoir-dak is aan Platinum Construction toegeken.
Die balke met 'n geraamde waarde van R250 000 is uit die water gehaal nadat die struktuur ineengestort het en is langs die reservoir opgestapel. Foto's: Chriszanne J van Vuuren
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'