GRAAFF-REINET NUUS - Sedert 2018 word die begraafplase van die NG Kerk in Sunnyside, wat aan die linker- en regterkant van die pad geleë is, deur Otto Sparrius en 'n span werkers van die NG Kerk skoongemaak.
Sparrius het na sy aftrede in 2017 by die NG Kerk Graaff-Reinet betrokke geraak. Hy vertel dat dit ook in hierdie tyd is dat die agteruitgang van die begraafplase baie op inwoners se lippe was. Hy het besluit om saam met die kerk verantwoordelikheid te neem om te begin om die "ou" en "nuwe" NG Kerk se grafte skoon te maak.
Die kerk het twee randsnyers gekoop en werkers van die kerk periodiek beskikbaar gestel.
Die begraafplase word ongeveer drie keer per jaar goed skoongemaak en Sparrius sê dat hy deur die jaar seker maak dat hy sy hand op die onderhoud van die grafte hou. Wanneer 'n grafsteen omgeval het word dit netjies opgetel en neergelê op die graf om dit te bewaar. "My span herstel ook soms van die grafte wanneer dit begin inval.
"Vandalisme is ook 'n groot probleem waar die heinings, pale, hekke en bakstene wat grafte afrond net weggedra word," vertel Sparrius.
Hy is trots om te sê dat wanneer besoekers die grafte van hul geliefdes hierdie jaar besoek, dit weer mooi skoon en netjies sal wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’