GRAAFF-REINET NUUS - Alecia Louw (14), 'n gr. 8-leerling aan Hoër Volkskool in Graaff-Reinet, is 'n sportnaam om te onthou.
Soveel van sporttalent het die Kamdeboo lanklaas, indien ooit, gesien. Wat Alecia so uitsonderlik maak, is nie net haar skitterprestasies in hokkie nie, maar haar veelsydigheid.
Hoewel sy haar vanjaar op hokkie en tennis toespits, word Alecia se vroeë sportontwikkeling ook gekenmerk deur prestasies in netbal en atletiek. Boonop was sy Laer Volkskool se onderhoofdogter in 2022 en het sy gedien op die landsdiens-bestuur, terwyl sy ook akademies goed gedoen het.
Hokkie
Net 'n gr. 8-groentjie, is Alecia reeds in die eerstehokkiespan opgeneem. As aanvallende senter speel sy haar hart uit in elke wedstryd en het reeds vanjaar deurgedring na die Oostelike Provinsie o. 14-proewe.
In 2022 het sy die OP o. 13 -span gehaal. Sy is ook aangewys as LVS se belowendste o.13-hokkiespeler van die jaar en was telkens speler van die wedstryd.
Alecia speel al van gr. 2 af hokkie en wil graag 'n hokkie-afrigter word.
Tennis
Sy speel al van gr. 2
af tennis en is vanjaar in die o.15 OP-span opgeneem wat deelgeneem het aan die nasionale interprovinsiale toernooi.
Netbal
In 2021 is sy opgeneem in beide die OP o. 12-netbalspan, asook die Graad 6 Nasionale Suid-Afrikaanse skolespan. By LVS het sy in 2021 erekleure verwerf. In 2022 het sy aan die Sarah Baartman-proewe deelgeneem, maar sy het nie meer tyd vir netbal nie. "Hoërskool is 'n baie groot aanpassing en sport raak meer intens. Ek moes kies: hokkie of netbal. En ek sien my toekoms eerder in hokkie."
Atletiek
In atletiek het Alecia by LVS deelgeneem aan verspring en die 100 m, 200 m en 800 m-
items. In 2022 het sy LVS halferekleure vir atletiek verwerf en was sy ook die victrix ludorum. Sy het op distrikvlak by die Sarah Baartman-byeenkoms tweede plek losgehardloop in die 100 m en die 200 m.
Daarop het sy ook aan die Oos-Kaap atletiekkampioenskappe in die Sarah Baartman-span deelgeneem. "Ek hou eintlik die minste van atletiek. Alhoewel ek dit geniet, veral om te hardloop, hou ek nie van die kompetisie nie. Al die ander sport is spansport en ek geniet spangees in sport. Maar in atletiek is 'n mens op jouself en jou eie prestasies gefokus; dis direkte kompetisie met ander."
Gelukkige plaaskind
Alecia se ma, Cynthia (Serpie) Louw, gebore en getoë Aberdener, is 'n werknemer op die plaas, Dowefontein in die Aberdeen-omgewing en uitermate trots op haar dogter se uitsonderlike sportprestasies. Alecia is in Aberdeen gebore en het grootgeword op die plaas. "Ons is soos 'n groot familie op die plaas. Ek kan naweke en vakansies nie wag om huis toe te gaan nie – die plaas is waar ek kan asemhaal," vertel Alecia met sagte, blink oë.
"Dis eintlik maar my lewe om net by my ma te kan wees en op die plaas rond te loop – in die natuur. Die plaas met die groot berg is wat ek ken en waar ek veilig voel."
"Toe sy drie jaar oud was, het ek haar so dopgehou op die plaas – die kleutertjie het net 'n opvallende manier van beweeg gehad, man. Ek het toe vir haar ma gesê ek sien 'n mens wat gaan uitblink in sport. Ons moet plan maak om vir haar sportblootstelling te gee. Sy is daardie selfde jaar nog Weppie Preppie-kleuterskool toe in Graaff-Reinet, waar sy vir drie jaar was," vertel Heinrich Marx, eienaar van Dowefontein.
Alecia se dankbaarheid teenoor haar ma, Marx en die hele groot "familie" op Dowefontein, staan voorop in haar gesels. "Ek is 'n plaaskind en dis vir my 'n voorreg. Ek neem elke dag net soos dit kom en wil net die beste 'ek' wees wat ek kan."
Alecia, die tennisspeler.
Alecia op haar eerste skooldag in 2016.
Alecia met die LVS-trofeë wat sy in 2022 ontvang het.
Alecia Louw, enigmatiese jong sportster.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’