ABERDEEN NUUS - Riekie Smit en Swannie Heinse van Husky's Skeerdienste in die Aberdeen-omgewing het vanjaar op 29 April by die Bloemfontein-skou tydens die SA skeerkampioenskappe hulle sonderlinge vaardigheid ten toon gestel.
Smit het in die intermediêre kategorie die algehele eerste plek behaal. Skeerders in die kategorie moes daarin slaag om tussen 50 en 120 skape per dag te skeer.
Chris (Husky) Esterhuizen, 'n beoordelaar, verduidelik dat die beoordeling nie beperk is tot hoeveelheid nie, maar omvattend gedoen word volgens velerlei aspekte. Heinse het in die SA kategorie vierde gekom en in die SA ope-afdeling derde. In dié kategorieë word meer as 120 skape per dag geskeer.
"Swannie het saam met die groot manne geskeer in die SA's en in die ope-afdeling gekompeteer teen skeerders uit Lesotho. Ons is so trots op sy prestasie," sê Esterhuizen. Carina Esterhuizen, ook 'n beoordelaar, voeg by dat vanjaar se kompetisie ekstra straf was, want die algehele wenner en naaswenner gaan aan die einde van Junie aan die wêreldkampioenskappe in Skotland deelneem.
"In perspektief geplaas, moet onthou word dat die room van SA skeerders deelneem aan die SA kampioenskappe, want dit word voorafgegaan deur streek- en provinsiale kampioenskappe. Vir Riekie en Swannie om net te kon deelneem aan die SA's, was dus reeds 'n groot prestasie. En toe vaar hulle uitstekend," gee Husky perspektief.
Swannie Heinse en Chris (Husky) Esterhuizen.
Riekie Smit en Chris (Husky) Esterhuizen.
Riekie Smit in aksie tydens die kampioenskappe.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’