Sponsored Content
ABERDEEN NUUS - Die VLV-tak in Aberdeen se vergaderings bied telkens iets opwindend aan en op Woensdag 23 Augustus het Carina Esterhuizen, saamroeper van die studierigting leefstyl, opvoeding en kultuur, die dames met ‘n unieke geleentheid tot selfontdekking verras.
Marietjie Greeff, ‘n semi-afgetrede boervrou uit Rietbron-distrik en gasspreker, het die 25 dames teenwoordig by die Aberdeen-klub bekendgestel aan Dougles Forbes se Human Pin Code-teorie.
Greeff het ‘n studie van die teorie gemaak en die dames op ‘n praktiese toepassingswyse daaraan bekendgestel.
Elk het ‘n vraelys ontvang om in te vul in ooreenstemming met dag van verjaarsdag, maand en geboortejaar waar getalle bereken en dan ontleed word onder persoonlikheidstipe, lewenspadontwikkeling en lewenslesse, onder andere.
Die akkuraatheid in beskrywing van aktiewe en reaktiewe persoonlikheidseienskappe aan die hand van die wetenskaplike algoritmiese ontledingsformule het vele dames verstom gelaat.
Lucille van der Merwe het die oggend geopen met die boodskap dat vroue meer mag het as wat hulle besef - dat dit in stilwordtye is wat ‘n mens die naaste aan God kom en dat kalmte en vrede werklik bereik word wanneer jy op jou knieë is.
Suzanne Lategan en Maryke Lategan het met heerlike eetgoed gesorg vir die innerlike versterking, terwyl Lea van der Vyver die geskenk vir die gelukstrekking van die dag voorsien het. Miems van Loggerenberg was die gelukkige wenner.
Marietjie Greeff en Carina Esterhuizen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’