KAROO NUUS - 'n 39-jarige man van Aberdeen het Dinsdag in die Oudtshoorn-landdroshof vir 'n borgtogaansoek verskyn na hy op 15 Oktober op aanklag van seksuele aanranding in hegtenis geneem is.
Hy is op borgtog van R1 000 vrygelaat.
Die man se naam is aan Oudtshoorn Courant bekend, maar kan nie genoem word voordat hy in die hof skuldig of onskuldig gepleit het nie.
Hy het na bewering op 15 Oktober 'n vrou op De Hoop, buite De Rust, seksueel aangerand waarna die vrou 'n klag by die polisie gelê het.
Die staat het nie borgtog teengestaan nie en landdros Stephanie Strydom het die saak vir verdere ondersoek tot 11 November uitgestel. Die beskuldigde mag nie by verdere misdaad betrokke raak nie en nie wegbly met sy hofverskynings nie.
Die borgtog is deur die beskuldigde se regsverteenwoordiger, Lourens Swanepoel, betaal waarna hy vrygelaat is.
Oudtshoorn Courant het betroubaar verneem dat daar glo tydens sy arrestasie op 15 Oktober ammunisie in die voertuig gevind is. Dit moet egter nog deur die polisie bevestig word.
Dieselfde man was in 2013 saam met vier ander mans op 'n klag van hoogverraad in hegtenis geneem. Volgens mediaberigte het hulle glo saamgesweer om oudpresident Jacob Zuma en ander ANC-hooggeplaastes om die lewe te bring. Hulle het in die hof in Bloemfontein verskyn, maar die klagte teen die man is later teruggetrek. Die rede vir die terugtrekking is nie bekend nie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'