GRAAFF-REINET NUUS - Die NG kerk Graaff-Reinet moes flink dink om hierdie jaar se basaar 'n sukses te maak, aangesien dié geliefde geleentheid dalk nie die lig sou sien weens Covid-19-regulasies nie. Hoe dan gemaak in hierdie moderne tydperk? 'n Aanlynbasaar - en dit was 'n reusesukses!
Heerlike basaar kerrie-en-rys, en pannekoeke, is gemaak en inwoners kon hul bestellings oplaai. Wat is 'n basaar sonder boereworsrolle? Dié was ook beskikbaar vir bestelling.
"Daar is 201 boereworsrolle gemaak, 1 250 pannekoeke gebak en verkoop, en die poedings en terte is binne 'n uur uitverkoop," het Sanet van Tonder namens die kerk gesê.
"Ons gaan beslis weer so iets aanpak."
Prettige aanlynkompetisies, wat die gemoedere by die huis gelig het, is ook gehou. Gemeenskapslede kon op Facebook stem vir hul gunsteling babafoto's en troeteldierinskrywings. Plaaslike geskiedenisfundi Ansie Malherbe, het weer gehelp om foto's in die Toeka se Tyd-afdeling te beoordeel.
Die babas was natuurlik almal kostelik, maar Mirabella-Mia Mostert was die wenner in die 0 tot 6 maande kategorie en Curden Bokbaard i die 6 tot 12 maande kategorie.
Pieter Pienaar, met sy Franse bulhonde Haya en Stella, is tweede in die diere-ewebeeldafdeling. Hiér was Wentzel van der Merwe en skaaphond Jasper die wenners.
Die prys vir die mees sportiewe foto het gegaan aan die Van Wyk-gesin, met hul 'selfie' van pa DJ op 'n fiets, ma Suliza wat draf, en die twee dogtertjies, ook op hul fietse. Hulle het deelgeneem aan die kerk se virtuele pretdraf, wat op 6 Junie gehou is.
Die kerk bedank al die plaaslike borge wat 'n aandeel gehad het om die aanlynbasaar 'n sukses te maak. "Ons wil almal aanmoedig om plaaslike besighede te ondersteun in hierdie moeilike en vreemde tye."
Sanet van Tonder (NG kerk Graaff-Reinet) saam met Anke Killian (derde in diere-ewebeeldafdeling) en Adele van der Berg (fotowenner van mees senior troeteldier).
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'