MIDDELBURG NUUS - Donderdag, 18 Augustus, het menige inwoner van Middelburg die geloei van sirenes gehoor en gewonder wat het waar gebeur.
Skuins na 2nm het ‘n goederetrein wat vanaf Rosmead na Beaconsfield onderweg was, by die spoorwegstasie, Flonker, ongeveer 10km buite Middelburg op die Noupoort-pad gestop by ‘n rooi sinjaal.
Op die goederetrein was Alexander Flemming, Jan Swanepoel en Neo Jansen Witkoei. Intussen het ‘n diesellokomotief weggehol uit die rigting van Noupoort en reguit op die goederetrein afgepyl. Jan Swanepoel en Neo Jansen Witkoei kon betyds uit die trein spring, maar ongelukkig kon Alexander Flemming nie betyds afspring nie.
Spoornet personeel wat Vrydagoggend op die toneel was, sê dat hulle vermoed die weghol-diesellokomotief kon ‘n spoed van 140 tot 160km/h behaal het voor dit die goederetrein getref het.
‘n Ambulans vanaf Middelburg was binne 20 minute op die toneel en het Jan Swanepoel na die hospitaal geneem. Jan het naby die trein geval en was vol olie. Neo kon daarin slaag op Jan betyds weg te sleep van die vlamme. Jan is steeds in ‘n kritieke toestand.
Die ongeluk word tans ondersoek.
'Ons bring jou die nuutste Middelburg, Karoo nuus'