GRAAFF-REINET NUUS — Graaff-Reinet se Vallei van Verlatenheid is verlede week deur CNN - ‘n Amerikaanse TV-netwerk - as een van 23 redes geïdentifiseer hoekom Suid-Afrika besoek moet word.
In die berig, wat op hul webwerf, www.cnn.com, verskyn het, word daar op 23 pragtige landmerke en toeriste-aantreklikhede in Suid-Afrika gefokus.
Die majestueuse Vallei van Verlatenheid - wat buite Graaff-Reinet in die Camdeboo Nasionale Park geleë is - bied een van die mees skouspelagtigste berguitsigte in Suid-Afrika.
Dit is ‘n natuurmonument van besondere geologiese betekenis - die loodregte kranse en hoë dolerietpilare teen die agtergrond van die vlaktes van die Kamdeboo is die gevolg van vulkaniese werking en erosie 150 tot 190 miljoen jaar gelede.
Hierdie besondere stuk bergterrein is in 1935 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar en is dit vandag een van Graaff-Reinet se grootste aantrekkingskragte wat fotograwe, voetslaners en nuuskieriges met asemrowende sonsondergange, eksklusiewe foto-geleenthede en die natuurskoon van die Vallei van Verlatenheid lok.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'