GRAAFF-REINET NUUS — Martin Noël Pietersen, die munisipale bestuurder van die Dr Beyers Naude-munisipaliteit, wat tereggestaan het op vyf klagtes dat hy die munisipale finansiële bestuurswet oortree het gedurende sy termyn as munisipale bestuurder van Oudtshoorn, is Woensdag, 7 Desember, in die Oudtshoorn streekhof op al die klagtes skuldig bevind.
Streeklanddros M Cannon van Kaapstad het bevind dat Pietersen in 2010, nadat hy heraangestel is as munisipale bestuurder van Oudtshoorn, sy posisie misbruik het toe hy ‘n konsultasie firma, IBR, aangestel het tot voordeel van homself of/en ‘n ander persoon, Ian Kenned, ‘n voormalige munisipale bestuurder van Stellenbosch en eienaar van IBR.
Meer as R2 miljoen is tussen Oktober 2010 en Junie 2011 aan Kenned se IBR betaal.
Hy is ook daaraan skuldig bevind dat hy gefaal het om sy pligte as rekenpligtige amptenaar na te kom, deurdat hy nie stappe geneem het om nuttelose en vrugtelose uitgawes te verhoed nie, gefaal het om die nodige stappe te neem deur te sien dat die munisipale voorsieningsketting beleid geimplimenteer en op ‘n regverdige, deursigtige, kompeterede ‘n koste-effektiewe wyse toegepas word.
Die landdros het in haar twee-uurlange uitspraak ‘n breedvoerige oorsig gegee van hoe Pietersen die betrokke wet oortree het.
Volgens haar het hy ook gefaal om behoorlike finansiële rekords as rekenpligtige amptenaar van die munisipaliteit by te hou.
“Die beskuldigde het die wet in eie hande geneem,” het die landdros aan die einde van haar twee-uur lange uitspraak gesê.
Die saak is vir voorvonnisbetoë tot 31 Maart 2017 uitgestel.
* Pietersen het na die uitspraak aangedui dat hy beslis teen die uitspraak sal appelleer.
Adv Max Orban van die kantoor van openbare vervolging was die aanklaer terwyl adv Jerome Van der Schyff namens Pietersen verskyn het.
• Die Advertiser het die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit hieromtrent genader vir kommentaar. Daar word gehoop dat ons in volgende week se uitgawe meer hieroor kan berig.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'