MIDDELBURG NUUS— Middelburg beleef tans 'n waterkrisis met dele van veral die bo-dorp wat tussen 6vm rn 10nm geen water het nie.
Raadslid Handri Vorster het die Chris Hani Distrik Munisipaliteit (CHDM) infrastruktuur gaan inspekteer, veral die pompe by die boorgate. Al die pompe werk wel, maar die watertafel is baie laag.
Die dorp en Midros se reservoirs is feitlik leeg en Kwanozame se reservoir is onder 30%. Die dorp word nou gevoed direk vanaf Grootfontein, maar die aanvraag is te hoog.
Die Chris Hani Distrik Munisipaliteit het die Water- en Riool-department oorgeneem by die Inxuba Yethemba-munisipaliteit in Julie 2014, nadat die gemeenskap dit teengestaan het.
Bo en behalwe die water-rekeninge wat ook 'n probleem is, is daar geen kommunikasie vanaf CHDM nie - daar word geen publieke vergaderings gehou om die gemeenskap in te lig oor die huidige krisis nie en daar is geen gebeurlikheidsplan indien die water sou opraak.
Wat IS die gebeurlikheidsplan?
Raadslid Vorster het einde Oktober 2016 'n brief gerig aan die munisipale bestuurder van CHDM, Mnr Mene, sowel as oproepe na die Rampbestuureenheid in Queenstown, maar daar was geen ag geslaan op haar skrywe en oproepe nie.Waterbeperkings was wel ingestel gedurende 2015 se somermaande, maar as gevolg van geen werknemers wat aangestel is om die wetgewing te handhaaf nie, is daar nooit boetes uitgedeel nie en dus beteken die beperkings ook niks.
Dis die feesseisoen, gastehuise is vol en die motoriste ry deur af see toe. Die dorp kan nie bekostig om kosbare inkomste in die water (sic) te gooi nie.
Middelburg inwoners versoek nou ‘n dringende publieke vergadering met Chris Hani Distrik Munisipaliteit om bogenoemde te bespreek.
Met die skrywe van die berig, was ‘n CHDM afvaardiging oppad na Middelburg. Raadslid Vorster het onderneem om die gemeenskap by wyse van die koerant op hoogte te hou van sake.
'Ons bring jou die nuutste Middelburg, Karoo nuus'