JANSENVILLE NUUS — Die pas afgelope Donderdag, 1 Junie, het die kudujagseisoen afgeskop.
Dit beteken dan ook dat die jaarlikse Opening of the Season-byeenkoms in Jansenville dié naweek, 2 en 3 Junie, jagters van oral bymekaar gelok het om die seisoen op 'n hoë noot in die distrik in te wy.
Die Opening of the Season vind vir etlike jare reeds plaas en skop dit die distrik se jagseisoen op 'n gesellige wyse af.
'n Jagkompetisie, stalletjies en 'n ordentlik opskop met 'n bekende gaskunstenaar is kenmerkend van dié naweek.
Dit het dan ook grootliks ten doel om geld in te samel vir organisasies, skole en hulpbehoewendes in die distrik wat 'n helpende hand broodnodig het.
Oor die loop van die naweek word geld ingewin deur die verkoop van loodjies ensomeer en word die naweek se winste dan na afloop van die naweek aan geïdentifiseerde partye oorhandig.
'n Gedeelte van verlede jaar se geld is aan die Jansenville Damesrugbyklub geskenk. Van die fondse is dan ook aan Jansenville se NG Kerk Koskas oorhandig.
Laastens is daar ook 'n plaaslike skool geïdentifiseer wat kon baat uit die res van die beskikbare fondse.
Die organiseerders hoop om dié jaar nóg meer te kan terugploeg in die gemeenskap en vra dat mense die inisiatief sal ondersteun.
Diegene wat meer hieroor wil uitvind kan organiseerder David Kinghorn skakel by 082 577 9073.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'