GRAAFF-REINET NUUS — Inwoners van Cypress Grove, 'n woonbuurt van Graaff-Reinet, het op Dinsdag, 25 Oktober, self hand in die sak gesteek om hul buurt skoon te kry.
"Ons het al telkemale die munisipaliteit versoek om ons by te staan met die skoonmaak van die vullis-belaaide rivierbedding by die ingang tot die buurt, sowel as die ingang self", meen 'n inwoner van die area. "Ondanks herhaalde versoeke is daar niks aan gedoen nie, dus het ons besluit om self plan te maak."
Een van die inwoners het haar voornemens om haar twee tuiniers aan die werk te stel om die opruimingswerk te doen op 'n Whatsapp-groep vir die buurt bekend gemaak. Die res van die inwoners het toe dieselfde inisiatief geneem en Dinsdagoggend, 25 Oktober, hul tuiniers vir die dag afgestaan om sodoende die area skoon te kry.
Nege tuiniers het van vroeg die oggend af hard gewerkskaf met inwoners van die gebied wat deurentyd sakke aflaai en bakkie-vragte vullis wegry. Daar is ook kort-kort aan die werkers koeldranke en kospakkies geneem en was almal stomgeslaan deur die ywer en entoesiasme wat die werkers getoon het.
"Hulle was ongelooflik trots op hul werk en ons wil hulle graag deur hierdie wyse bedank vir die dag se swoeg en sweet," meen 'n Cypress Grove-inwoner.
Dank word ook uitgespreek aan die gemeenskap wat uit hul eie sak uit die tuiniers betaal het vir die dag se werk.
"Dis lekker om deel te wees van ’n gemeenskap wat saamstaan.”
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'