KAROO NUUS - Die 64-jarige Hendrick Jacobs het onlangs die geleentheid gekry om vir die heel eerste keer in sy lewe die see te sien.
Hendrick is op die plaas Wanganella in die Graaff-Reinet-omgewing gebore.
Hy het daar grootgeword en vir meer as 40 jaar gewerk, maar in September 2021 moes hy noodgedwonge die plaasgrond se stof afskud omdat hy siek was en nader aan die hospitaal en dokters moet wees.
Lena vertel dat Hendrick net Karooveld geken het voordat hy dorp toe getrek het. "Oupa ken net die plaas. Hy het nie eens skool geloop nie, hy was maar die hele tyd net daar op die plaas. Op daardie plaas het hy getrou en kinders gehad en later jare sy vrou ook begrawe. Sy ma en pa is ook daar begrawe." Lena is Hendrick se tweede vrou.
Hulle het ook op die plaas ontmoet en daar getrou. "Hendrick het darem so nou en dan dorp toe gegaan om inkopies te doen en soms met die fiets Aberdeen toe gery, maar verder as dit was hy nooit. Ek kry hom soms so jammer omdat hy niks ken nie," sê Lena.
So het die geleentheid om die see te sien Hendrick te beurt geval toe hy en Lena genooi is om aan die Support Centre for Land Change (SCLC) se plaaswerkerplatform in Mosselbaai deel te neem. Hendrick was totaal oorweldig, en het met diep bewondering na die see gestaar.
"Oupa kon die see net nie kleinkry nie. Nes hy die kans gekry het, het hy by die venster gestaan en kyk en elke nou en dan uitgeroep: "Nee man. Kyk net hoe sterk is daardie water!"
Die Sondag is hulle na die strand waar sy diep bewondering vir die 'groot water' selfs die omstanders meegevoer het. Van voete natmaak in die see wou Hendrick niks weet nie, maar Lena ken die see en sy het nie op haar laat wag nie. Hendrick het eers benoud geskreeu: "Ouma kom terug!" Toe sy nie gehoor gee nie het hy aanhoudend gewaarsku: "Ouma, moenie te diep ingaan nie." Agterna bieg hy: "Ek was bang die see vat my vrou en dan moes ek alleen terugkom Graaff-Reinet toe."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’