KAROO NUUS - Maryka Nel (21) van Thembalesizwe, Aberdeen het om ongeveer 04:30 Saterdag-oggend, 29 Julie, in die plaaslike hospitaal aan haar beserings beswyk nadat sy in die nagtelike ure glo wreed deur haar vriend, Calvin Jacobs (20) van Richmond, aangerand is.
Jacobs is later die oggend deur die polisie in hegtenis geneem en het Maandag 31 Julie vlugtig in die Graaff-Reinet-landdroshof voorgekom.
Graaff-Reinet Advertiser het van die familie van die oorledene verneem dat Jacobs gedurende die naweek 'n skuld-bekentenis afgelê het.
Laaste ure
Adam Nel, vader van die oorledene, vertel dat Maryka saam met hom vir die week op 'n plaas gewerk het en dat hulle Vrydag 28 Julie weer op die dorp aangekom het. Maryka en Jacobs het glo later die Vrydagaand by Adam se huis opgedaag en gesê dat hulle wou Richmond toe ryloop. "Maryka was onseker of sy wou saamgaan, en Jacobs het gesê al gaan hy alleen, hy ryloop Richmond toe."
Volgens Adam is die paartjie ongeveer 21:00 by sy huis weg. "Ek het nie geweet waarheen hulle is nie, maar hy het hier gepraat dat hulle van Maryka se geld wat sy gespaar het, wou gaan haal; ek weet nie," sê Adam. Vroeg Saterdagoggend het Jacobs glo vir Adam gaan vertel dat sy dogter aangerand en oorlede is.
Volgens Maria Maartens, ouer suster van die oorledene, het Jacobs om ongeveer 01:20 die Saterdagoggend by hulle huis in Thembalesizwe aangekom met 'n erg beseerde en bewustelose Maryka. "Hy het haar hier voor die huis teen die draad kom neersit en ons kom roep," verduidelik Maartens terwyl sy na die spesifieke plek teen die heining wys.
Volgens Maartens en van die ander inwoners van die huis het die nooddienste om ongeveer 01:40 opgedaag. Intussen het Jacobs, volgens Maartens, probeer om Maryka te help om haar bewussyn te herwin. "Hy het haar nog met water natgegooi en so geskop-skop teen haar voete terwyl sy hier teen die draad was," vertel Maartens.
"Teen vyfuur se kant het die polisie weer teruggekom en vir ons kom sê Maryka is oorlede", sê Maartens. Amanda Nel, moeder van die oorledene vertel dat sy haar blakend gesonde kind nog Vrydag op die plaas gegroet het, maar by haar aankoms op die dorp oor die naweek, was dieselfde springlewendige kind, oorlede: "Sy het Vrydag niks makeer nie en nou is sy dood en hy lewe."
Daar is by die familie steeds geen sekerheid oor presies waar die paartjie hulself bevind het in die tyd vandat hulle die aand saam weg is by Adam se huis, waar die oorledene ook gewoon het, tot waar Jacobs met die ernstig beseerde Maryka by Amanda en Maria Maartens se huis opgedaag het nie.
Die verwarring en onsekerheid
Die Advertiser het van 'n betroubare bron, asook die familie van die oorledene verneem dat Maryka veelvuldige beserings aan haar kop en bolyf opgedoen het wat bytmerke insluit. Die Oos-Kaapse polisiewoordvoerder, ao. Majola Nkohli, het bevestig dat die slagoffer beserings aan haar bolyf opgedoen het en in die plaaslike hospitaal gesterf het.
Volgens die familie het Jacobs aan Maartens en Adam vertel dat hy en Maryka in Lotusville (woonbuurt aangrensend tot Thembalesizwe) was en dat hulle vir 'n rukkie weg van mekaar af was. "Hy het hier vir my kom sê hy het by 'n winkel ingegaan en sy het aanhou loop," sê Adam.
Volgens Adam het Jacobs Saterdagoggend aanvanklik aan hom vertel dat hy vermoed dit was "die tikkoppe" wat haar aangerand het: "Ek het vir hom gesê ek glo hom nie en dat die tikkoppe in ons dorp nie vrouens seermaak nie; hulle gryp hulle sakke of beursies en hardloop dan weg."
Maartens sê Jacobs het aanvanklik vertel dat hy Maryka gesoek het en langs die Kamdeboo Skool in 'n paadjie gevind het – erg aangerand.
Die familie is dit eens dat hulle steeds nie weet presies wat gebeur het nie, maar is daarvan oortuig dat Jacobs nie uit die staanspoor vir hulle die waarheid vertel het nie.
Facebook-inskrywings
Die laaste Facebook-inskrywing wat Jacobs op sy persoonlike blad om 05:55 Saterdagoggend gemaak het, skryf hy, "RIP, ek gaan jou baie mis".
"Om te dink, hy maak daai en laat ons glo hy het haar so geslaan gekry, maar dis al die tyd hy self wat haar so seergemaak het", sê 'n familielid. Die laaste inskrywing wat Maryka op 26 Julie op haar Facebook-blad gemaak het lees, "... al stry oz so but djy iz my forever."
Adam sê hy het Jacobs nie goed geken nie en het hom maar min gesien, veral omdat hy nie 'n Aberdeen-boorling is nie, maar dat hy weet Maryka en Jacobs ken mekaar al 'n jaar of twee.
Geslagsgebaseerde Geweld (GGG) – ook in Aberdeen
Yvonne Frazenburg, raadslid vir wyk 1 (Thembalesizwe en Lotusville), het Maryka se familie op Maandag 31 Julie besoek om haar medelye en simpatie te betuig.
Frazenburg het aan die Advertiser gesê dat die wrede, sinnelose moord op Nel net weereens bevestig dat GGG steeds oral gebeur en dat klein plattelandse dorpe nie daarvan gespaar bly nie.
Sy het ook beklemtoon dat die slagoffers van GGG dikwels hul aanvaller ken en vertrou.
"Baie keer is daar verskillende vorme van mishandeling – eers emosioneel en/of finansieel en uiteindelik gaan dit oor in fisieke geweld en by dan is dit te laat."
Sy sê ook dat voortgesette bewusmaking- en inligtingsessies broodnodig bly: "Die belangrikste is dat meisies en vroue moet besef hulle moenie stilbly nie. As jy voel jy word mishandel, moet jy praat – praat met iemand; daar is hulp. Ons meisies en vroue aanvaar dikwels dat hulle afgeknou word ter wille van die liefde.
Maar 'n gebalanseerde, gesonde verhouding sluit altyd abuse uit – beide partye moet mekaar respekvol behandel."
Saak uitgestel
Jacobs het op 1 Augustus in die Aberdeen-landdroshof voorgekom en sy saak is tot 8 Augustus vir 'n borgtogaansoek uitgestel. 'n Dossier vir 'n geregtelike doodsondersoek is geopen.
Begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie bekend nie.
Maryka Nel
Maria Maartens, ouer suster van wyle Maryka Nel, by die plek teen die heining waar sy 'n bebloede, sterwende Maryka laaste gesien het. Foto: Alex Lombaard
Calvin Jacobs, spesiale vriend van wyle Maryka Nel, wat nou teregstaan op aanklag van moord.
Van links is raadslid Yvonne Frazenburg wat haar simpatie betuig aan Maria Maartens (middel), oudste suster van Maryke, en Amanda Nel (regs), en Maryka se moeder. Foto: Alex Lombaard
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’