HOFMEYR NUUS - "Sy het self besluit sy wil deelneem toe sy sien wat op die program vir die April VLV-vergadering is," vertel Amorey Hattingh se ma, Marguerite. En toe stof die 11-jarige Amorey se skoenesak die tannies se handewerk uit deur eerste prys te behaal.
"Hierdie is nie haar eerste naaldwerkitem nie. Sy het self besluit watter materiaal sy wil gebruik en self die skoenesak se patroon uitgeknip. Sy bedraad reeds geruime tyd my masjien en is baie lief om goedjies vir huishoudelike gebruik te maak," sê haar ma.
"Amorey het 'n puik 84% vir haar sak behaal," vertel Estelle Kruger, sekretaresse van Hofmeyr VLV. Amorey word tuis saam met haar drie boeties en kleinsus onderrig. Marguerite glo daaraan dat die kinders al hul talente moet ontwikkel en gebruik.
Die gesin woon hoog in die Bamboesberge, baie ver van Hofmeyr en Tarkastad, en elkeen het sy of haar eie huishoudelike pligte en verpligtinge op die plaas voordat daar soggens met skool begin word.
Twee van Amorey se jonger boeties help reeds vir pa, Louis Hattingh, op die plaas. "Vandag maak hulle beeste bymekaar," vertel Amorey trots. Haar bababoetie en kleinsus was saam met hulle by die VLV-vergadering en het in die binnehof gespeel.
Annerine van der Merwe, voorsitter van die plaaslike tak, moedig alle kinders aan om deel te neem. "Kinders is die toekoms van die VLV."
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'