MISDAAD - 'n Vermeende inbreker wat lus was vir 'n bietjie gerief, kon dit net nie weerstaan om terug te keer na 'n huis in Hofmeyr waar hy glo vier dae tevore ingebreek het nie.
Maar, die 26-jarige man se verlange na 'n warm stort en sagte bed het hom egter duur te staan gekom.
Mongezi Hewu, wat glo gewoonlik te sien is op die dorp se rommelhoop, het na bewering vir die eerste keer op 3 November by Donné Taai se huis in Hofmeyr in die Oos-Kaap ingebreek en toe, 'n paar dae later, teruggekeer vir 'n nag van gemak.
Taai, die assistent-takbestuurder van OVK in Hofmeyr, was weg vir 'n langnaweek en het Sondag 3 November by haar ouers op Nxuba, voorheen Cradock, gaan oornag. Die nag het sy vier oproepe vanaf CDK Sekuriteit ontvang, maar nie wakker geword nie.
Sien niks verdag
Die volgende oggend vroeg het CDK haar weer gebel en gesê dat die polisie by haar huis was en dat alles in orde blyk te wees. Die huis het 'n hoë palisade heining voor en 'n draadheining van 2m hoog aan die agterkant, so die polisie kon nie binne die erf kom nie.
Taai het die Maandag ook in Nxuba vertoef en Dinsdag het haar pa haar teruggeneem na Hofmeyr. Hy is saam met haar die huis in.
“Toe ek by my spaarkamer instap sien ek die venster is gebreek en die diefwering gebuig. Die badkamer se venster was ook gebreek en die diefwering afgehaal. My pa het dadelik polisiestasie toe gery."
Die polisie het opgedaag en Taai het ‘n klag gelê.
Al haar kruideniersware en die kos in haar vrieskas en yskas was weg.
Die inbreker het ook die kruideniersware en kos in die yskas en vrieskas geniet.
Terug na Nxuba
“Ek en my pa het die basis van die bed in die spaarkamer voor die gebreekte venster geskuif en die matras daarteen staangemaak om te keer dat 'n inbreker weer inkom. My pa wou my nie alleen in die huis los nie en die middag na werk het ek my waardevolle goed in sy motor gelaai, my huis gesluit, en saam met hom Cradock [Nxuba] toe gery.
"Dis erg, want ek moet nou twee keer ‘n dag die pad tussen Hofmeyr en Cradock aandurf, en dit neem lank, want daar is baie stop-en-rye. Ek is afhanklik van ander, want ek het nie my eie motortjie nie."
Donderdagoggend, 7 November, net na middernag, bel CDK Sekuriteit haar weer. "Die alarm het toe sewe keer, kort namekaar, afgegaan. Die polisie kon niks verdag sien nie, maar hulle kon ook maar net om die hoë muur loop," vertel Taai.
Ongenooide gas
“Vrydagoggend neem ek toe een van die mans wat saam met my werk, Joseph Frans, saam om die gebreekte ruite te gaan meet sodat dit vervang kon word. Hy meet nog so ewe die spaarkamer se venster van buite, toe sien hy iemand slaap in die bed.
"Ons bel toe dadelik vir CDK en ek probeer die voordeur oopkry, maar die latch was van binne aan en ons kon nie in nie. Toe hardloop ek so vinnig ek kan na die polisie en Hofmeyr se hele mag van ses polisiemanne het na my huis gekom en moes die slot breek.
"Die polisie het die vensters bewaak sodat die inbreker nie kon wegkom nie. Ek is die huis in saam met die adjudant-offisier.”
Nagrus word nagmerrie
Taai en die AO het op Hewu afgekom waar hy in ‘n piepklein badkamerkassie weggekruip het en hy is op die toneel in hegtenis geneem.
Hewu het glo die vorige nag heerlik in die spaarkamer se bed geslaap, maar Taai vertel die ongenooide gas was gelukkkig silwerskoon, want sy het sy nat sokkies in haar stort gevind.
Hy het ook haar waslap, stortskuim, badspons en handdoeke gebruik.
Die polisie het 'n mes tussen die bed se matras en basis gevind en daarop beslag gelê.
Taai sê sy is nou te bang om alleen in haar huis te slaap. “Hierdie inbrake het my verander in ‘n angstige mens. Ek besef nou dat hy my dopgehou het, want hy woon en eet altyd daar by die rommelgate, naby my huis.”
Hewu sou vandag in die hof op Hofmeyr verskyn op klagtes van huisbraak en diefstal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’