Advertorial
BESIGHEIDSNUUS - Dentists at Health verwelkom hulle 4de tandarts, dr. Michael du Raan (24) het onlangs by dr. Beukes en die span by Dentists at Health in Graaff-Reinet aangesluit.
Du Raan se liefde vir mense en sy begeerte om mense beter oor hulself te laat voel en hul selfbeeld te verbeter, veral hul glimlagte, het hom in die rigting van tandheelkunde gelei.
Hy sê dat hy as 'n Karoo-boorling van Somerset-Oos nou op die regte plek gevestig is – tussen mense vir wie hy lief is en waar hy kan doen waarvoor hy lief is.
Du Raan het grootgeword aan die voet van die Bosberg in Somerset-Oos. Hy het in 2018 aan Gill Kollege gematrikuleer en daarna na die Kaap verhuis om tandheelkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland te studeer. Ná vyf jaar se studie het hy in 2023 sy gemeen-skapsdiensjaar by Humansdorp Hospitaal voltooi, waar hy by baie goeie tandartse geleer het. "Hier het ek op my voete leer dink om oplossings vir die onmoontlike te vind," sê hy.
"Dit is wonderlik om weer tuis te voel in 'n dorp waar ek ná ses jaar nie meer in verkeer hoef vas te sit nie. Ek waardeer die stilte en voel die liefde in die inwoners van Graaff-Reinet se harte."
Du Raan sê hy geniet sy daaglikse werk en hanteer elke pasiënt se behoeftes individueel. Hy wil fokus op mondchirurgie en implantate en wil ortodonsie by kinders bevorder. Hy voel bevoorreg om dr. Beukes, dr. Van Zyl en dr. Van Huyssteen van Dentists at Health in Graaff-Reinet aan sy sy te hê vir bystand en goeie raad.
Hy is opgewonde om terug te wees in 'n gemeenskap waarvan hy die mense se behoeftes verstaan en waarin hy 'n positiewe verskil kan maak. Wanneer hy nie in die praktyk is nie, geniet hy die natuur, die buitelewe en oefening.
Hy maak ook tyd om saam met sy familie en vriende te kuier. Hy sien daarna uit om nuwe pasiënte te verwelkom en 'n verskil aan hul glimlagte te maak!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’