GRAAFF-REINET NUUS — Wat kan beter wees as om jouself terdeë te geniet terwyl talle plaaslike liefdadigheidsorganisasies en kerke ook daarby baat?
Die eerste Versamelskou in dié omtrek gaan hierdie Saterdag, 11 November, by die Botaniese Sportgronde in Graaff-Reinet gehou word.
Die skou, wat deur die plaaslike Gere-formeerde Kerk gereël word as fondsinsamelingsinisiatief, bied aan plaaslike inwoners en besoekers die geleentheid om talle versamelaars se unieke versamelgoed te besigtig.
Daar is 'n groot verskeidenheid versamelings bevestig wat in die twee sale by die Botaniese Sportgronde van 08:00 tot 15:00 aanskou kan word.
Tydens die skou sal daar ook 70 klassieke en vintage motorvoertuie op die rugbyveld te siene wees.
Wat hierdie fees uniek maak is dat daar terselftertyd ook 'n kattebakverkoping in die parkeerarea aan die agterkant van Botanies gaan plaasvind waar kosstalletjies deur verskillende kerke en liefdadigheidsorganisasies vanuit Graaff-Reinet en omgewing beman sal word.
Kosstalletjies waarna daar na uitgesien kan word, sluit in die kerrie-en-rys stalletjie van die Edenhof Dienssentrum, die Trinity Methodist Church se spek-en-eier rolletjies, die Assembly of God se boereworsrol-stalletjie, die Gereformeerde Kerk sal springmielies, spookasem, kolwyntjies en allerlei lekkernye vir kinders verkoop terwyl die ACVV soet- en gevulde pannekoeke sowel as sosaties gaan verkoop en die Botaniese Sportklub koffie, tee, koeldrank gaan voorsien en die kroeg sal beman.
'n Pret speelterrein sal die kleintjies deur die loop van die dag vermaak.
Toegang tot die kattebakverkoping is gratis terwyl 'n fooi van R30 per persoon (R20 vir kinders) gehef sal word vir diegene wat deur die res van die terrein wil beweeg om die uitstallings te aanskou.
Moet dit nie misloop nie!
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'