GRAAFF-REINET NUUS — Met Vrouemaand wat sopas tot 'n einde gekom het, deel Ralie Blignaut van Graaff-Reinet, die eerste vroulike vennoot by GBG, haar raad vir vroue in besigheid.
Ralie is reeds sedert 1998 ‘n vennoot by die ouditeursfirma GBG.
Sy was die eerste vroulike vennoot en het op 27-jarige ouderdom vennoot geword.
Haar raad aan vroue in besigheid is:
Jy moet ‘n plan hê en weet waarheen jy oppad is. Dit was my ideaal om voor 30-jarige ouderdom my eie besigheid te hê.
As jy doelgerig is, volg beplanning natuurlik. Ja, ek is ‘n lysie mens! Dit geld vir die aspekte soos finansiële beplanning en aftree voorsiening, maar ook vir daaglikse roetine take soos my afsprake vir die week en maaltyd beplanning by die huis.
Kliënte betaal vir my kundigheid, daarom streef ek daarna om altyd voorbereid te wees vir ons vergaderings en waarde toe te voeg.
Ek hou nie van verrassings en krisus bestuur nie, daarom weet almal rondom my van my beplanning sessies. Selfs tuis help dit om die huishouding aan die gang te hou.
Ons almal ken die voordele van take delegeer.
Ek het reeds vroeg in my loopbaan baie goeie raad gekry by my vennoot, David Gowar: Ralie, kry vir jou ‘n goeie huishulp. Dit het my laat besef dat ek ook tuis take kan delegeer. Delegeer eerder die klein goedjies en spandeer meer tyd saam met die gesin en doen dinge waarvan jy regtig hou.
Om ‘n goeie ondersteuningsnetwerk te hê is ook kardinaal vir sukses. Lojale personeel, ‘n ondersteunende eggenoot, kinders en ouers maak my dagtaak makliker.
Die belangrikse raad vir enige beroepsvrou is: Hou van wat jy doen! As jy jou werk met passie doen, kom al die ander dinge vanself.
• Gerber, Botha & Gowar (GBG) is 'n firma van geoktrooieerde rekenmeesters wat 'n verskeidenheid finansiële dienste bied. Die firma is trots op hul reputasie vir betroubaarheid en kundigheid op 'n aantal finansiële gebiede. GBG Graaff-Reinet kan gekontak word by 049 891 0080 of gbggr@gbggroup.co.za
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'