Advertorial
GRAAFF-REINET SAKENUUS - "Ek is baie trots op hom, want hy's my baby." Die Graaff-Reinet ma Rochelle Snyers, is nie die enigste een wat trots is op haar seun, Millriano Elias, nie.
Die hele dorp gons oor dié talentvolle 13-jarige, wat die hoofrol in die kunsprojek en -film, Tears Become Rain losgeslaan het.
Die film, geregisseer deur kunstenaar David Brits, musikant Raiven Hansmann saam met teaterregisseur Themba Stewart en choreograaf, Fiona du Plooy, fokus op die waterskaarste in Graaff-Reinet. Millriano vertolk |Xam-seun, !Kabbo, se soeke na water.
Die film is een van die projekte in die Rupert-museum se Social Impact Arts Prize 2020. Dié kompetisie het 'n beroep op kunstenaars landswyd gemaak om 'n projek op Graaff-Reinet te doen wat 'n positiewe impak op die gemeenskap kan bemagtig.
Millriano se lewe het reeds verander vandat hy in die film gespeel het, en sy droom is nou om 'n akteur te word. "Ek sal baie graag New York toe wil gaan, want daar is baie hoë geboue," vertel Millriano in sy ouma se huis in Kapertjiestraat.
Volgense Millriano vra inwoners van die gemeenskap gereeld vir hom of hy nou die outjie in die film oor Graaff-Reinet is. "My ouer broer en suster sê ek hou my dan famous, maar net so nou en dan," lag Millriano beskeie.
Millriano was voor die film al 'n bekende in sy gemeenskap, as die hardwerkende hoofseun van Narsingstraat Primêr. "Ons is in ekstase oor sy prestasie," het skoolhoof Trevor Moos destyds oor Millriano en die film gesê. Moos is ongelukkig in Oktober aan Covid-19-komplikasies oorlede.
"Ek is baie hartseer dat Mnr. Moos my nie in die film gaan sien nie, want hy het my ondersteun om dit te doen," vertel 'n emosionele Millriano. "Ek hoop dat ek hom sal trots maak."
Sy raad aan sy medeskoolmaats is om op die regte pad te bly, en nie op te gee op hul skoolloopbane nie. "Bly biddend," is Snyers se raad aan ouers.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'