GRAAFF-REINET SAKE NUUS — Dit is vanjaar die 15de verjaardag van die nis-besigheid ISU-Rommel wat in 2001 deur Henlein Bertram en sy destydse regterhand James Mtyedwa, gestig is.
Ou James het intussen afgetree en is ongelukkig ‘n paar jaar terug oorlede. Henlein sê hy dink met heimwee terug aan die klein begin met oom James en hy sou dit geniet het as James hier kon wees om te sien waar die besigheid wat hulle saam begin het, vandag staan.
Die gedagte vir ISU-Rommel het ontstaan deurdat Henlein opgemerk het dat meeste huishoudings oortollige rommel vergaar wat nie deur die munisipale dienste verwyder word nie en dat almal nie oor fasiliteite vir die wegvoer van sulke oortollige rommel beskik nie. Na ‘n “dinkskrum” het Henlein se plan in plek geval en is die baie gewilde “Bloudrom-diens” geloods.
Die diens behels die lewering van ‘n (prominente blou) 210 liter drom waarin die kliënt (huiseienaar) enige huishoudelike rommel wat binne die drom pas, kan plaas, waarna ISU-Rommel dit stiptelik (gewoonlik op Maandae) een keer per week verwyder. Deur die jare is die diens uitgebrei om nie net huishoudings nie maar ook die besighede van Graaff-Reinet te bedien en is daar vandag menige besigheid wat dromme by ISU-Rommel huur.
Besighede en individue wat meer rommel het wat verwyder moet word, kan onderling met ISU-Rommel reël vir ‘n uitgebreide diens. Sommige voordele van die Bloudrom-diens is dat kliënte nie nodig het om die dromme op die sypaadjie uit te plaas nie (minder moeite vir die kliënt) en dat die ergernis van “dromkrappers” en honde terselfdetyd effektief verhoed word.
Die grootste voordeel is natuurlik dat kliënte nooit hope opgegaarde tuinvullis en ander rommel op die werf sal hê nie. “Die Bloudrom-diens is uiters gerieflik, vra enige kliënt”, sê Henlein.
‘n Uitstaande kenmerk van ISU-Rommel is hul uitstekende diens en die leuse “Ons diens is ons trots”, getuig hiervan. Henlein is fanaties oor goeie diens en hy sê; “Wanneer dit by goeie diens kom is daar geen onderhandeling nie, dit is goeie diens of niks!”
Vir boukontrakteurs en selfbouers het ISU-Rommel ook ‘n oplossing wanneer dit by die lewering van kleiner hoeveelhede boumateriaal kom. Sedert 2014 lewer ISU-Rommel (ook in hoeveelhede van emmer, sak en vrag), “pre-mix”-pleistersand, klip en 19mm “all-in-concrete klip” vir die kleiner projekte.
Die onderneming het met die jare fluks gegroei en die ISU-Rommel span bedryf tans vier klein wipvragmotors, ‘n 15-ton wipvragmotor en ‘n laaigraaf sodat groter projekte met gemak aangepak kan word.
Iets wat Henlein na aan die hart lê is om nie net te ontvang nie maar om ook te gee. Die Advertiser verneem vertroulik dat die ISU-Rommel span gereeld by liefdadigheidsprojekte betrokke raak waar hulle, hulle dienste gratis of teen verlaagde tariewe aanbied. Die Kankervereniging en van die dorp se begraafplase is instansies wat hieruit voordeel trek.
ISU-Rommel het met die jare nie gestagneer nie en bied deesdae veel meer as net die Bloudrom-diens. Die wegry van bou- en ander rommel per vrag sowel as ander ligte vervoer dienste (ook per vrag) is etlike jare terug geïmplementeer en en almal wat daarvan gebruik wil maak is welkom om vir Henlein te kontak.
Die feit dat ISU-Rommel sy ligte vervoerdiens uitsluitlik binne Graaff-Reinet bedryf hou die voordeel in dat kliënte gewoonlik nie lank hoef te wag vir dienslewering nie.
Deesdae verskaf ISU-Rommel ook ‘n reeks hoë kwaliteit produkte aan inwoners van Graaff-Reinet. Vir die tuin is daar kraalmis, tuingrond en kompos wat in hoeveelhede van “by die emmer, by die sak of per vrag” gelewer word.
Laastens maar beslis nie die minste nie, bedank Henlein en sy span al hul kliënte wat van ISU-Rommel se dienste en produkte gebruik maak. Daar is ook ‘n menigte (te veel om hier op te noem) kliënte wat al vyftien jaar die pad saam stap en vir hulle het Henlein spesiale waardering en dank.
Ter afsluiting sê Henlein, “Met die genade van bo en met die ondersteuning van honderde lojale kliënte sien ek en my span uit na die volgende vyftien jaar en sal ons altyd poog om die beste moontlike dienste en produkte te lewer - gewaarborg. Dit is lekker om te weet dat ons ‘n nuttige diens aan die gemeenskap kan lewer.”
Die geheim van ISU-Rommel se volgehoue sukses en sy lewering van hoë gehalte diens lê in die personeelkorps, sê Henlein. Die mense wat die wiel aan die draai hou is oom Andries, oom Pieter, Ricus, Sampie, Clifton, Mervin, Rasta, Xolile, Welton, Kapok, Alfred, James, Daniel en George. “Hierdie mense is Isu-Rommel”, sê Henlein, “en hul lojaliteit word op ‘n daaglikse basis raakgesien en gewaardeer”.
Heinlein het die Advertiser versoek om die span langs hierdie weg te vereer en bedank vir hul harde werk.
Dit is vanjaar die vyftiende verjaardag van die nis-besigheid ISU-Rommel wat in 2001 deur Henlein Bertram en sy destydse regterhand James Mtyedwa, gestig is.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'