LANDBOU NUUS - ’n Span navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) en die Landbounavorsingsraad het die eerste keer die DNS van ’n stokkerige gewas in Afrika suksesvol aangepas deur presiese wysigings aan die genetiese materiaal aan te bring.
Dit is ’n belangrike mylpaal vir plantbiotegnologie op die vasteland.
Die navorsers het deur CRISPR-tegnologie - ’n instrument wat wetenskaplikes in staat stel om DNS op baie spesifieke punte te knip en aan te pas - te gebruik, ’n enkele geen (VvDMR6.1) in wingerdstokplante “afgeskakel”.
Dié geen hou verband met die wyse waarop hierdie plante op siektes reageer. Volgens die navorsers het hierdie wysiging die plante minder kwesbaar gemaak vir donsskimmel, ’n ernstige siekte wat wingerde wêreldwyd aantas.
Die bevindings van hulle studie het onlangs in Plant Stress verskyn.
Genetiese wysigings
Volgens die navorsers toon hulle studie hoe ’n enkele geteikende genetiese wysiging verskeie stresresponse in plante kan beïnvloed.
“Ons kon deur die wysiging van ’n geen wat wingerdstokke meer kwesbaar vir siektes maak, hierdie kwesbaarheid verminder en tegelyk die plante se reaksie op watertekorte beïnvloed. Ons navorsing toon hoe moderne geen- of genoomwysigingstegnologie gebruik kan word om wingerdstokke meer bestand teen siektes en droogtes te maak,” sê die hoofnavorser, dr. Manuela Campa van die departement genetika aan die US.
“Dit verteenwoordig ’n stap vorentoe in die integrasie van moderne genoomwysigingsbenaderings in verbeteringsprogramme vir Afrika-gewasse, veral vir hoëwaarde-tuinbougewasse soos wingerde.”
Campa wys daarop dat wetenskaplikes die afgelope paar jaar al hoe meer genoomwysigingstegnieke soos CRISPR-tegnologie gebruik om sekere gene te wysig en plante meer siektebestand te maak.
Sy sê ’n onverwagte bevinding van hulle studie was die reaksie van die geneties gewysigde plante op watertekorte. “Die plante het beter op droë toestande gereageer. Hulle waterhouvermoë het verbeter, wat daarop dui dat hulle dalk beter geskik is vir die ál droër toestande wat weens klimaatsverandering verwag word.
“Dit is ’n opwindende stap vorentoe, want dit dui daarop dat ons presiese wysigings aan plante kan aanbring wat meer as een belangrike eienskap gelyktydig verbeter.”
Genoomwysiging
Omdat wingerdstokke weens siektes en veranderende omgewingstoestande al hoe meer onder druk verkeer en dié druk na verwagting weens klimaatsverandering sal verskerp, kon hulle studie nie op ’n beter tyd kon gekom het nie, meen Campa.
“Wingerdbou (die plant, bestuur en oes van druiwe) word deur beduidende uitdagings in die gesig gestaar omdat siekte-uitbrekings ná tydperke van omgewingstres toeneem.
“Omdat wingerdstokke wêreldwyd hoëwaarde-gewas is en veral vir Suid-Afrika se landbousektor belangrik is, moet ons variëteite ontwikkel wat verskeie stresfaktore gelyktydig die hoof kan bied. Dit kan ons help om druiwe volhoubaar te produseer soos wat toestande meer uitdagend raak.
Volgens Campa dui hulle bevindings op die potensiaal van genoomwysiging as ’n kragtige instrument om gewasse in Afrika te verbeter.
“Hoewel genoomwysiging wyd op modelplante en verskeie gewasse wêreldwyd toegepas is, het die gebruik daarvan in stokkerige meerjarige spesies beperk gebly weens hule komplekse regenerasiestelsels en lang kweeksiklus.
“Hierdie werk toon dat gevorderde genoomwysigingstegnologieë suksesvol op meerjarige gewasse in Afrika toegepas kan word. Dit open die deur vir nuwe navorsing wat ten doel het om meer volhoubare en klimaatsveerkragtige gewasse te ontwikkel.”
Campa benadruk dat verdere studies nodig sal wees om die geneties gewysigde plante in werklike toestande te evalueer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’