LANDBOU NUUS - Agri Wes-Kaap is trots om twee Wes-Kaapse produsente geluk te wens wat verlede week twee gesogte toekennings Wes-Kaap toe gebring het.
Johan van der Schyff, eierprodusent van Plettenbergbaai en Wes-Kaap se Jongboer van die Jaar, is Donderdagaand 7 November in Johannesburg as die Agri SA Toyota SA Nasionale Jongboer van die Jaar aangewys.
Sewis van den Horst van Villiersdorp is tydens dieselfde geleentheid as die New Harvest wenner aangewys. Hy boer met nektariens, appels en pere.
Die voorsitter van Agri Wes-Kaap se Jongboerkomitee, PF Theron, sê die feit dat die Wes-Kaap vanjaar skoonskip gemaak het, wys dat daar geweldige kundigheid in die provinsie se landbousektor opgesluit is.
“Johan en Sewis is ware ambassadeurs vir die landbou en vir die Wes-Kaap," het hy gesê.
"Hulle is vernuftige, dinamiese entrepreneurs en ek glo hulle sukses en doelgerigtheid sal vir baie jongboere en nuwe toetreders tot die landbou as inspirasie dien."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'