KAROO NUUS - Die afgelope week het dit bekend geword dat bek-en-klouseer reeds op 34 plase in die Oos-Kaap bespeur is en 'n gedeelte van die Oos-Kaap is as siektebestuursgebied verklaar.
Bek-en-klouseer is ‘n hoogs aansteeklike virus by spleethoewige herkouers met 'n geweldige ekonomiese impak aangesien nie die melk of vleis van besmette diere geskik geag word om te gebruik nie.
John Steenhuisen, nasionale minister van landbou, het op 27 Julie in die staatskoerant aangekondig dat geen gesplete hoefdiere, diereprodukte afkomstig van gesplete hoefdiere of genetiese materiaal van die diere van, na of binne die siektebestuursgebiede van die Oos-Kaap verskuif mag word nie, behalwe onder die gesag van 'n staatsveearts-permit.
Biosekuriteitsmaatreëls
Dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, het in 'n brief aan Nonceba Kontsiwe, die Oos-Kaapse LUR vir landelike ontwikkeling en landbouhervorming sy diep kommer oor die situasie uitgespreek.
Meyer het gesê gegewe die nabyheid van die Wes- en Oos-Kaap, hy die besluit van Steenhuisen verwelkom. Hy sê ook dat die verhoogde biosekuriteitsmaatreëls wat ingestel is, die werk versterk wat deur staatsveeartse gedoen word om verdere verspreiding te voorkom.
Gedeeltes van Koukamma-munisipaliteit en Kouga-munisipaliteit maak deel uit van die Oos-Kaap se siektebestuursgebied.
Meyer het alle rolspelers versoek om waaksaam te wees en voortdurend te werk om die biosekuriteitsmaatreëls op plase te versterk. Wes-Kaapse verkeersbeamptes, ondersteun deur staatsveeartsenykundige en rampbestuurbeamptes, stop voertuie vir vee-inspeksies en om dokumentasie na te gaan.
Groot geld
Boere in die Oos-Kaap moet groot bedrae geld spandeer om die siekte in toom te hou, en vrees die virus kan talle plase lamlê.
Die 34 plase waar daar tans uitbrake is, moes reeds uitgawes aangaan om alle diere te behandel, en dan neem dit geruime tyd voordat die plaas bek- en klouseervry verklaar word.
As bek-en-klouseer gewaar word, moet die naaste staatsveearts dadelik gekontak word.
Afrivet, wat spesialiseer in die verskaffing van medikasie teen bek- en klouseer, het onlangs bekend gemaak dat ‘n wye spektrum, doeltreffende middel ontwikkel is, wat spesifiek op bek- en klouseer onder plaaslike omstandighede toegespits is.
Gaarmaak vernietig virus
Dr. Tertius Bergh, konsultant by Savos, en welbekende by die departement van landbou, het onlangs in Die Jagter geskryf, "Bek-en-klouseer is hoogs aansteeklik en enige spleethoewige dier kan deur kontak besmet raak. Wild wat voorkom op plase wat grens aan kwarantyngebiede kan besmet wees. Sommige diere mag weerstandig wees en nie fisies siek word nie, maar hulle kan steeds die virus versprei deur beweging. Die virus is nie aansteeklik vir mense nie en die gaarmaak van vleis vernietig die virus.”
Jagters word gemaan om hulself te vergewis van kwarantyngebiede en om met die staatsveearts in die area kontak te maak.
As bek-en-klouseer gewaar word, moet die naaste staatsveearts dadelik gekontak word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’