KAROO NUUS - Die sprinkaanplaag wat tans in Calitzdorp is, het Oudtshoorn nog nie bereik nie.
Volgens Lohan Fourie, ‘n boer van Calitzdorp, kon hulle gisteraand daarin slaag om ‘n redelike hoeveelheid sprinkane met gif te spuit.
“Dit lyk of hulle meer na die noorde toe beweeg. Dit is egter nog te vroeg om te sê of hulle Oudtshoorn se kant toe gaan. Hulle vlieg eers wanneer die wind bietjie sterker is en wanneer dit warmer is. Die sprinkane kan ook net in die aand gespuit word. Gisteraand het spanne tot omtrent 02:00 vanoggend gespuit en kon ons darem ‘n groot hoeveelheid spuit.”
Volgens hom is daar nog nie veel skade aangemeld nie.
“Daar was ‘n boer wat tamatieplante verloor het, maar daar is nog nie baie skade by my aangemeld nie. Dit is makliker om hulle in die lande te spuit, want in die veld kan ons nie oral met die bakkies ry nie en ook nie oral loop nie.”
Fourie sê hulle het ‘n spuitspan van Laingsburg gekry en hy kon ongeveer drie groot swerms identifiseer.
Lees meer op susterskoerant, Oudtshoorn Courant.
Foto's: Lohan Fourie
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'